Stelsel ontwikkel om vrye pers in SA te reguleer
2011-07-08 09:34
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse koerantbedryf het Donderdag ’n omvangryke inisiatief van stapel gestuur om ’n doeltreffende stelsel vir die regulering van die vrye pers te ontwikkel.
Dit sal die die vorm aanneem van ’n ondersoekpaneel van vooraanstaande kundiges wat as die Persvryheidkommissie (PVK) bekend sal staan.
Regter Pius Langa, voormalige hoofregter en president van die konstitusionele hof, sal die kommissie lei.
Die PVK sal voorleggings in Suid-Afrika en die buiteland inwin en navorsing doen oor ’n optimale stelsel waarvolgens die gedrukte media gereguleer kan word. Dit sal ook toesien dat etiese standaarde gehandhaaf word.
Die PVK moet einde Maart 2012 ’n verslag voorlê aan die SA Nasionale Redakteursforum (Sanef) en Drukmedia SA, die bedryfsliggaam wat die land se koeranteienaars verteenwoordig.
Onder die PVK-lede tel aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse kerk, die sakevrou en bemarkingskenner Santie Botha, die regsgeleerde en sensuurkenner prof. Kobus van Rooyen dr. Phil Mthimkulu, oudjoernalis en hoogleraar aan Unisa.
Mondli Makhanya, hoofredakteur van Avusa Media en voorsitter van Sanef, het gesê die PVK kom nie in reaksie op die ANC se planne om ’n mediatribunaal in te stel nie. Dis eerder om ’n “Rolls Royce vir mediaregulering” in die lewe te roep. “Die ANC het sy eie proses. Ons teenkanting teen staatsregulering is bekend,” het hy gesê.
Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, het eers die PVK verwelkom, maar later daarteen uitgevaar.
“Dis onaanvaarbaar dat die opdrag is om die beste vorm van selfregulering te ondersoek. Die ANC wil ook ’n vorm van statutêre regulering hê,” het hy gesê.
“Die PVK sal net Sanef en die drukmediabedryf se pierewaaiers wees.”
- Die Burger