Steenkoolstaking verby
2011-08-01 22:55
Johannesburg – Die staking in die steenkoolbedryf is Maandag beeïndig nadat ‘n ooreenkoms oor loonverhogings bereik is, het die Kamer van Mynwese gesê.
“Die staking in die steenkoolmynbedryf is verby nadat maatskappye en vakbonde vandag ‘n ooreenkoms oor loonverhogings en ander voorwaardes van indiensneming bereik het,” het Jabu Maphalala, ‘n woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Die weeklange staking deur ongeveer 150 000 werkers is beeïndig nadat die National Union of Mineworkers (NUM), United Association of South Africa (Uasa) en Solidariteit ‘n ooreenkoms vir die volgende twee jaar geteken het.
Die Kamer van Mynwese het gesê loonverhogings loonverhoging sal tussen 8% en 10,5% wees afhangend van die skaal waarop die werknemer aangestel is.
Die mynvakbond, NUM, het aanvanklik 'n verhoging van 14% geëis. Die staking in die steenkoolbedryf het die land se kragvoorsiening bedreig, hoewel Eskom die versekering gegee het dat daar genoeg steenkool beskikbaar is.
Loononderhandelings in die goudmynbedryf is intussen in Johannesburg aan die gang. Meer as 100 000 goudmynwerkers staak sedert verlede Donderdag.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA