Steeds geen teken van ontvoerde Chanté (3)
2011-06-21 09:02
Kaapstad. – Chanté Christoffels (3), wat 18 dae gelede uit die parkeerterrein by die Bellville-middestad-winkelsentrum ontvoer is, is steeds soek.
Volgens kapt. Fienie Nimb, woordvoerder van die Bellville-polisiekantoor, is daar nog geen nuwe leidrade nie.
“Ons gaan egter voort met die soektog,” het sy Maandag gesê.
Chanté is Vrydagmiddag 3 Junie glo ontvoer terwyl haar ouers motors in die winkelsentrum se parkeergebied opgepas het.
Haar ma, Landy Christoffels (36), en haar pa, Cedrick Julisen (53), woon in Blikkiesdorp, Delft.
Die polisie het die Maandag ná die ontvoering ’n fotosamestelling uitgereik van Chanté se beweerde ontvoerder – ’n Xhosasprekende vrou bekend as “Straatloper” of Gladys.
Sy is tussen 30 en 35 jaar oud, ongeveer 1,65m lank, fors gebou en het ’n ligte gelaat.
Die polisie het die volgende dag ’n gesigsamestelling van Chanté uitgereik.
Beeldmateriaal van die kringtelevisiestelsel in die winkelsentrum wys hoe ’n vrou, geklee in ’n kopdoek, denim-romp en ’n donker trui met ’n bont kraag, doodluiters saam met Chanté stap.
* ’n Moordsaak word ondersoek nadat die lyk van ’n onbekende vrou Maandag op die plaas Môrewag in Puntweg, Philippi, gevind is.
Ao. November Filander, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die boer het die lyk omstreeks 08:50 in die plaasdam gevind.
Die vrou was gedeeltelik geklee in ’n pienk trui, blou jeans, ’n pienk en swart serp en blou tekkies.
Haar hande was agter haar rug met ’n plastiektou en haar voete aanmekaar, vasgebind. Daar was bloed aan haar gesig.
Die vrou se identiteit is nog nie bekend nie.
Filander het gesê die moontlikheid dat die vrou verkrag is, word ook ondersoek.
Enigeen met inligting kan speurkonst. Mzuvukile Ndungane by 0082 469 6534 of die Stop Misdaadnommer 10111 bel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger