Statistiek SA: Werkloosheid neem af
2012-02-07 14:45
Pretoria – Die werkloosheidsyfer het tot 23,9% tussen die derde en vierde kwartaal van 2011 gedaal, het Statistiek Suid-Afrika Dinsdag gesê.
“Tussen die derde en vierde kwartale van 2011 het die hoeveelheid werklose mense met 198 000 afgeneem,” het Kefiloe Masiteng, die adjunkdirekteur-generaal van bevolking en maatskaplike statistieke, aan verslaggewers in Pretoria gesê.
Nietemin is 4,2 miljoen mense in Suid-Afrika steeds werkloos.
Uit diegene wat werkloos is, is 2,9 miljoen – of 67,5% – al vir ‘n jaar of langer op soek na werk.
Sowat 60,6% van werksoekers het nie matriek nie.
“Dit beteken hulle staan ‘n groter kans om weens hul onderwysvlakke in die toekoms werkloos te bly," het Masiteng gesê.
Die definisie van werkloosheid volgens Statistiek SA verwys na mense wat aan die opname deelgeneem het en sonder werk is, maar wat aktief na werk soek en wat in die week waarin hulle aan die onderhoud deelgeneem het by ‘n werk sou kon begin.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA