Stasiebevelvoerder het glo dronk bestuur
2010-12-23 07:20
Die Burger
Kaapstad - Die stasiebevelvoerder van die kusdorp Melkbosstrand waar daar in die afgelope boekjaar net een moord gepleeg is, is in die sop nadat hy die naweek na bewering dronk bestuur het.
Kapt. Themba Khumalo (39), bevelvoerder van die Melkbosstrand-polisie, is Sondag omstreeks 19:45 vir dronkbestuur in hegtenis geneem.
Volgens inligting wat Die Burger ontvang het, is hy by ’n padblokkade op die hoek van Mnandi- en Dumanistraat in Dunoon in hegtenis geneem.
Kol. Billy Jones, ’n polisiewoordvoerder, het gesê Khumalo was van diens en het in sy privaat motor gery. ’n Bloedmonster is geneem en na die polisie se forensiese laboratorium gestuur om getoets te word.
Hy het gesê ’n klag van wangedrag in terme van die polisie se tugprosesse word nou ook teen hom ondersoek.
Khumalo was Woensdag by die werk, maar het nie op boodskappe gereageer nie.
Khumalo is op waarskuwing vrygelaat en moet op 8Maart in die Kaapstad-landdroshof verskyn.)Mnr. Pierre Jenkins, voorsitter van die Melkbosstrand-gemeenskapspolisiëringsforum, het gister gesê hy kan nie glo dat Khumalo vir dronkbestuur in hegtenis geneem is nie.
Hy het gesê dit is baie jammer dat iemand in sy (Khumalo se) posisie – wat juis veronderstel is om ’n voorbeeld vir ander te stel – vir beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem is.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger