Stappe kom oor hotelskuld
2010-06-29 06:52
Die Burger
Johannesburg - Mbhazima Shilowa, Cope se adjunkleier, het Maandag belowe sy party sal sy agterstallige hotelrekeninge van meer as R1,2 miljoen betaal.
Shilowa was egter nooit by magte om dié uitgawes aan te gaan nie, het die party se werkkomitee Maandag in Johannesburg beslis.
Shilowa en Charlotte Lobe, Cope-hoofsekretaris, het nie Maandag die werkkomitee se vergadering bygewoon nie.
Dié rekeninge moes al begin vandeesmaand vereffen gewees het, maar nege City Lodge-hotelle en agt Protea-hotelle in Johannesburg, Pretoria en Midrand wag steeds op betalings van R838090,12 en R447838,82 onderskeidelik.
Die hotelle is gebruik om 861 afgevaardigdes wat Cope se leierskongres verlede maand buite Pretoria bygewoon het, te huisves.
Philip Dexter, Cope-woordvoerder, het gesê “dié uitgawes is aangegaan sonder enige magtiging...Daar sal stappe gedoen word teen die persoon wat verantwoordelik is”.
Cope se werkkomitee meen die kwessie moet by die nasionale komitee bespreek word.
Volgens Dexter was die hotelrekeninge nooit deel van die beplanning van die leierskongres nie.
Die deposito’s is glo wederregtelik uit een van die party se parlementêre rekeninge betaal.
Dié rekening mag ingevolge wetgewing en parlementêre regulasies slegs vir werk in kiesafdelings gebruik word, soos byvoorbeeld die instandhouding van kiesafdelingkantore.
Shilowa het Maandag geweier om direk vrae oor die besteding te beantwoord.
“Ek sal ’n verslag aan die nasionale komitee voorlê oor besteding vir die kongres,” het hy Maandag op ’n nuuskonferensie in Johannesburg gesê. “Wat ek ook al gedoen het, het ek namens die nasionale komitee en Cope gedoen.”
Intussen glo hy Mosiuoa Lekota, Cope-leier, het nie die reg om die parlement te versoek om die party se geld van die parlement te vries nie.
Shilowa het ook banke met regstappe gedreig sou hulle besluit om in opdrag van Lekota die geld in hul rekeninge te vries.
Hy glo Lekota en die banke het nie die reg om dit te doen nie.
Lobe het Maandag gesê kwessies oor die party se finansies sal op 16 en 17 Julie bespreek word wanneer die nasionale komitee weer vergader.
“Enige vergadering wat voor dan gehou word en nie deur my belê word nie, sal volgens die party grondwet onwettig wees,” het sy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger