Standerton-komitee afgedank
2009-10-21 22:04
Johannesburg - Die burgemeester van Standerton, sy komitee en die hoofsweep is afgedank ná ‘n vergadering met lede van die ANC se nasionale werkkomitee (NWC) Woensdag plaasgevind het.
"Die burgemeester, sy komitee en hoofsweep is afgedank en provinsiale bestuur sal hulle poste oorneem,” het Phanuel Manana, ‘n gemeenskapsleier, gesê.
Die besluit kom nadat Fikile Mbalula, 'n ANC nasionale komiteelid, Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, en die premier van Mpumalanga, David Mabuza, met die leiers van Standerton vergader het ná geweldadige betogings dié stad geteister het.
Ten spyte van ‘n beroep van die gemeenskap op raadslede om te bedank sal raadslede, insluitende die twee wat verlede week bedank het, hul poste behou.
"Die NWC het nie voorgestel dat raadslede bedank nie maar ons is gelukkig omdat hulle nie die mag wat hulle voorheen kon uitoefen sal behou nie. Hulle sal aan die provinsie moet rapporteer,” het Manana gesê.
Lede van die Sakhile-gemeenskap in Standerton het hul tevredenheid met dié besluit getoon.
"Ons gaan na die Sakhile-stadion gaan om die massas in te lig van dié besluit,” het Manana gesê.
Die Sakhile-nedersetting is die afgelope weke deur geweldadige betogings geteister nadat klagtes van korrupsie en slegte dienslewering gemaak is. Die gemeenskap het aangedring dat die burgemeester en raadslede bedank.
- Sapa