Stander-ongeluk: Taximan in hof
2013-01-07 07:23
Kaapstad – Die taxibestuurder wat na bewering die bergfietskampioen Burry Stander doodgery het, verskyn binnekort in Port Shepstone se landdroshof.
Die beskuldigde sal op ‘n aanklag van strafbare manslag verskyn.
Honderde fietsryers, familielede en vriende het die naweek aan die KwaZulu-Natalse suidkus hulde gebring aan die sportheld wat verlede week doodgery is.
Beeld berig sy vrou, Cherise, het die emosionele gedenkrit van St. Michael’s-on-Sea tot by die ongelukstoneel gelei.
Sy het via ‘n familievriend aan Sunday Times onthul dat sy twee uur voor die noodlottige ongeluk met haar man oor die foon gepraat het.
“Hy het my by die halfeindmerk in Port Edward gebel net om te hoor hoe dit gaan...” het sy vrou gesê.
“Hy het die gesprek geëindig met ‘ek is lief vir jou’... Dit was die laaste woorde wat hy aan my gesê het.”
Stander (25) is verlede week in Shelly Beach, naby die fietsrywinkel wat hy saam met sy pa, Charles, bedryf het, deur ’n minibustaxi getref. Sy pa het die botsing hoor plaasvind.
Die jaer het verlede jaar vyfde in die eindronde van die bergfietsry-item by die Olimpiese Spele geëindig.
Volg Nuus24 op Twitter