Stakingsgeweld eis 181 in 13 jaar
2013-01-21 15:11
Johannesburg – 'n Totaal van 181 mense is die afgelope 13 jaar dood in stakingsgeweld, het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) gesê.
"Die grootste aantal sterftes het in 1999, 2006 en 2012 plaasgevind – met 30, 69 en 60 sterftes onderskeidelik," het die SAIRR Maandag in 'n verklaring gesê.
Die sterftes in 1999 was hoog weens 'n geskil tussen die National Union of Mineworkers, die United Workers' Union of SA en die United Democratic Movement.
'n Staking deur sekuriteitswagte tussen Maart en Mei 2006 was ook verantwoordelik vir 'n groot aantal sterftes. Nie-stakende sekuriteitswagte en dié wat aan diens was, is aangeval en sommige is van bewegende treine gegooi, het die instituut gesê.
Die sterftes in 2012 was weens die stakings in die mynbedryf. Die ergste was die skietery op 16 Augustus by Lonmin se Marikana-myn in die Noordwes, waar 34 mynwerkers dood is.
Die SAIRR het gesê koerantberigte is gebruik om die getalle saam te stel.
Sowat 313 mense is vanaf Januarie 1999 tot Oktober 2012 beseer in stakings en meer as 3 058 in hegtenis geneem.
"Hoewel die syfers nie volledig is nie, dui dit aan hoe stakings in Suid-Afrika dikwels gepaardgaan met geweld.
"Die sterftes is dikwels veroorsaak deur gevegte tussen die polisie en stakers, tussen stakende en nie-stakende werkers en mededingende vakbonde."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA