Stakings tref SA
2009-07-24 15:20
Johannesburg – Geen treine en busse, 1,5 miljoen gestrande pendelaars, minimale munisipale dienste en apteke met te min personeel.
Dít is volgende week Suid-Afrikaners se lot as ‘n stakingsaksie wat deur ses vakbonde beplan word, voortgaan.
“In die stadium is daar nie ‘n teken dat die staking nie Maandag voortgaan nie,” het Mthandeki Nhlapho, sekretaris-generaal van die South African Municipal Workers Union (Samwu) gesê.
Minstens 150 000 sal van Maandag af staak om ‘n beter salaris te verdien.
Nooddienste en rommelverwydering word nie deur dié staking geraak nie.
Samwu en die Independent Municipal and Allied Trade Union(Imatu) het albei ‘n salarisaanbod van 11,5% verwerp.
Tshwane se stadsraad het pendelaars gewaarsku dat daar glad nie busse gaan ry nie.
“Pendelaars sal dus van alternatiewe vervoer gebruik moet maak,” het raadslid Gabriel Twala in ‘n verklaring gesê.”
Metrobus in Johannesburg het dieselfde waarskuwing uitgereik.
Die stad Kaapstad waarsku dat rommelverwydering in informele nedersettings, die vee van strate en verwydering materiaal wat onwettig gestort word ook deur dié staking geraak word.
Die South African Transport and Allied Workers' Union (Satawu) het Vrydag ‘n laaste poging aangewend om die staking deur Metrorail-werknemers af te las.
Beide Satawu en die United Transport and Allied Trade Union (Utatu) het ‘n salarisverhoging van 7% van die hand gewys.
Dié vakbonde verteenwoordig 10 000 werkers beplan om van Maandag af te staak.
Die Communication Workers Union (CWU) het Vrydagmiddag besluit om teen Telkom en die SABC te staak.
Lede van die Chemical, Energy, Paper, Printing, Wood and Allied Workers' Union (Ceppwawu) moet nog besluit of hul staking tot volgende week gaan duur.
SAPA