Stakings: Chaos by hospitale
2010-08-19 10:00
cJohannesburg – Stakende gesondheidswerkers het Donderdag die ingange van verskeie hospitale in Gauteng geblokkeer terwyl ‘n landswye staking deur openbare dienswerkers sy tweede dag betree.
“Ons weet dat die vakbonde gedreig het met ‘n algehele versperring,” het Mandla Sidu, Gauteng se woordvoerder vir gesondheid, gesê.
“Ons het Woensdag met bestuurders gepraat om te verseker dat hulle saam met die polisie werk. Indien dit nodig raak sal hulle die polisie kontak om mense te verwyder.”
Stakende werkers blokkeer glo die ingang na die Weskoppies psigiatriese hospitaal in Pretoria, het hy gesê.
SABC-radio het berig dat dieselfde by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg gebeur het.
Sidu kon nie ‘n radioberig, dat vyf mense Woensdag by Tembisa-hospitaal as gevolg van die staking dood is, bevestig nie.
“Ons is nog nie seker of dit as gevolg van die staking was nie,” het Sidu gesê.
‘n Landswye staking deur openbare dienswerkers het Woensdag begin, met nog talle vakbonde wat Donderdag by die massa-aksie aangesluit het.
– Is jy op een of ander manier geraak deur stakings? Stuur jou foto's of storie aan ons.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA