Staking op alle groot lughawes
2011-08-23 07:19
Johannesburg – Bagasiehanteerders en ander vlughulpdienswerkers begin na verwagting vandag op al Suid-Afrika se groot lughawes staak.
Kenneth Monnana, woordvoerder van die vervoervakbond Satawu, het gesê sowat 1 000 van hul lede gaan op die O.R. Tambo-, Kaapstadse, Koning Shaka-, Port Elizabethse en Oos-Londense lughawe staak.
Monnana het by navraag gesê die werkers is verantwoordelik vir die vervoer van bagasie na en van vliegtuie en is in beheer van drukkrane wat vliegtuie en trappe op hul plekke plaas.
Die werkers is in diens van Menzies Aviation, ’n wêreldwye lughawediensverskaffer.
Forsyth Black, senior ondervoorsitter van Menzies Aviation Africa, het gesê die maatskappy is reeds maande lank besig met onderhandelings en het vir ’n moontlike staking voorberei aangesien die vakbond al vroeër toestemming verkry het om te staak.
“Ons het 250 deeltydse werkers met die nodige sekerheidsklaring opgelei. Daar is ook 50 opgeleide werkers van die buiteland op pad na Suid-Afrika om bystand te verleen,” het Black gesê.
Die vakbond eis ’n 15%-salarisverhoging, ’n R70-vervoertoelae per maand, ’n R300-verhoging in hul mediesefonds-voordele en ’n 15%-verhoging van die werkgewer se bydrae tot die mediese fonds.
Black het gesê die maatskappy het ’n 5,32%-verhoging aangebied en was optimisties dat daar tot ’n vergelyk gekom kan word, maar die vakbond het teruggekeer na hul oorspronklike eise en besluit om te staak.
Die laaste vergadering tussen die vakbond en Menzies op 16 Augustus het op ’n dooie punt uitgeloop.
“Ons het die maatskappy probeer oorreed om ’n redelike aanbod ter tafel te lê,” het Monnana gesê.
Die vakbond was volgens hom teleurgesteld in die maatskappy aangesien die vakbond net ’n bestaansloon vir sy lede wil hê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld