Staking kan vandag nuwe lewe kry ná ‘verwarring’
2010-08-26 07:29
Kaapstad – Vakbondleiers hoop vandag se optog na die parlement sal “nuwe lewe in die staking blaas”.
“Al ons lede moet môre (Donderdag) aansluit. Ons het nou weer aan hulle verduidelik hulle moet die interdik ignoreer,” het James Kruger, Wes-Kaapse voorsitter van die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu), gister gesê.
Die rede waarom die opkoms vir betogings buite hospitale in die Wes-Kaap die afgelope twee dae “nie so goed was” nie, was weens “verwarring” oor die interdik, het Bongani Lose, provinsiale sekretaris van die verpleegvakbond Denosa, gesê.
Die arbeidshof in Johannesburg het die naweek ’n interdik toegestaan wat werkers wat noodsaaklike dienste lewer verbied om te staak.
’n Groep van sowat 100 betogers het gisteroggend voor Grand Central agter die Goue Akker in die Kaapse middestad byeengekom.
Nog ’n groep van sowat 100 het buite die Tygerberg-hospitaal betoog en ’n groep van sowat 20 het gistermiddag in hul etensuur buite die Somerset-hospitaal in Groenpunt betoog.
“Mense wil nie heeldag hier staan nie, want hulle is bang om geld te verloor omdat hulle reeds so min verdien,” het Myra Wynne (47), ’n verpleegster by dié hospitaal, gesê.
Portia Tities (40), ’n verpleegster by die Tygerberg-hospitaal, het gesê sy is “nie teen die staking nie, maar wel teen die manier hoe dit uitgevoer word” – veral in ander provinsies waar die staking met geweldpleging gepaardgegaan het.
“Ek ondersteun die feit dat daar salarisverhogings moet wees. Die vakbonde is daar om met die staat te beding vir ’n salaris, maar dit moenie van my verwag word om my diensplek te verlaat om te wys hoe ek voel nie. As ek uitstap, is ’n pasiënt se lewe op die spel.”
Koos Kruger, bestuurder van die staatsdiensvakbond PSA, het gesê die staking in die Wes-Kaap is “meer gedissiplineerd” as in ander provinsies. “Maar mense moenie sê omdat dit vreedsaam is, word die staking nie ondersteun nie.”
Vakbonde eis ’n salarisverhoging van 8,6% en ’n behuisingstoelae van R1000. Die regering se aanbod is ’n 7%-salarisverhoging en ’n behuisingstoelae van R700.