Staking kan sokker benadeel
2010-05-11 07:24
Marelize Barnard
Kaapstad - Met slegs 30 dae oor voor die begin van die Wêreldbeker-sokkertoernooi kan die land nie die ontwrigting bekostig wat veroorsaak word deur die staking wat in alle erns deur Transnet-werknemers begin is nie.
Die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) het gewaarsku dat die nagevolge van die staking kan oorspoel na Junie en Julie, wanneer die toernooi plaasvind.
Die staking het reeds groot ontwrigting veroorsaak met die Shosholoza Meyl-langafstand-treindiens wat staan.
Dié diens is weens die staking voorlopig vir twee weke opgeskort.
Met slegs die twee Shosholoza Meyl-treine wat daagliks tussen Gauteng en Kaapstad loop, word tot 2000 passasiers geraak.
Boonop is die ystererts-trein tussen Sishen en Saldanha en langafstand-vragtreine ook tot stilstand gedwing.
Kommer bestaan dat die situasie kan vererger as werknemers van Metrorail, ’n aparte sake-eenheid as Transnet, ook sou begin staak.
In Kaapstad het werknemers later as gewoonlik by die werk opgedaag omdat daar groot onsekerheid was of die staking Metrorail, wat die voorstedelike treindienste bedryf, ook sou raak.
Treine was leër as gewoonlik omdat mense ander vervoer gebruik het, hoewel dié diens se werkers nog nie staak nie.
Gert du Plessis, voorsitter van die AHI in die Wes-Kaap, het gewaarsku indien die vervoerstaking suksesvol is, kan die nagevolge daarvan tot in Junie en Julie oorspoel.
Die een ding wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie, is dat daar ten tyde van die Wêreldbeker-toernooi grootskaalse ongerief met die openbare vervoerstelsel ervaar word.
Du Plessis het gesê die sokkertoernooi moet nie opgemors word nie, want “dit is die één groot kans wat ons het”.
Jane Barrett, woordvoerder van die South African Transport and Allied Workers’ Union (Satawu), het gesê sowat 25000 lede van die vakbond het begin staak.
Sommige lede van die United Transport & Allied Trade Union (Utatu) het al ter ondersteuning van Satawu begin staak, hoewel dié vakbond eers vandag aankondig of hy ook gaan staak of Transnet se aanbod van ’n 11%-salarisverhoging aanvaar.
Groot ontwrigting vir honderdduisende voorstedelike pendelaars kan volgende week aanbreek indien Metrorail se werknemers ook sou besluit om te staak.
Satawu en Utatu moet nog besluit of hul lede in Metrorail gaan staak.
Chris de Vos, hoofsekretaris van Utatu, het gesê daar is nog geen kennis gegee van ’n Metrorail-staking nie en dit sal nie vandeesweek gebeur nie.
Hy het egter gewaarsku alle aanduidings is dat daar ook ’n staking by Metrorail kan kom.
- Die Burger