Staking kan matrieks se eksamens ontwrig
2010-07-23 08:17
Kaapstad - Geen onderrig vir matrieks, geen matriekvraestelle, geen opsigters vir matriekeksamens en geen nasieners nie – en dalk geen matriekeksamen nie.
Dít is wat wag as onderwysvakbonde nie vinnig ’n ooreenkoms met die regering oor salarisverhogings bereik nie, het Ronald Nyathi, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), Donderdag oor die dreigende staking deur onderwysers gewaarsku.
Daar is tans 81 dae oor voordat die praktiese eksamen vir matrieks begin.
As ’n ooreenkoms nie bereik word nie, sal die staking daartoe lei dat alles vertraag word en die matriekeksamen selfs uitgestel moet word, het Allen Thompson, adjunkpresident van die Na-tional Teachers’ Union (Natu), gesê.
“Dit kan in ’n nasionale chaos ontaard. Eksamens gaan laat geskryf word, uitslae gaan later kom en tersiêre instellings gaan spertye vir inskrywingsdatums moet uitstel.”
Die dreigende staking is deel van ’n moontlike staking deur staatsamptenare. Tot dusver het net die Vereniging van Staatsamptenare aangedui dat sy lede wel aanstaande week gaan staak.
’n Staking lyk onafwendbaar, het Chris Klopper, van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie en voorsitter van die onafhanklike arbeidskoukus, gesê.
- Die Burger