Staking in brandstofbedryf duur voort
2011-07-20 08:00
Johannesburg – Geen einde is nog in sig vir die staking in die brandstofbedryf nie. Die vakbonde het Dinsdag nog nie die jongste loonaanbod aanvaar nie.
Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Petroleumbedryfsvereniging (Sapia), het in ’n verklaring gesê die vereniging hoop om gou terugvoering van die vakbonde te kry.
’n Dubbelsyfer-verhoging is egter volgens hom onaanvaarbaar. “Ons het ’n weldeurdagte aanbod voorgelê en het alle faktore soos minimum lone en lewenskoste in ag geneem.”
Die intimidasie van nie-stakende werkers duur steeds voort, het Tshifularo gesê. Sapia het die hulp van die polisie ingeroep om die veiligheid van nie-stakende werkers te verseker.
Die vereniging het gesê hy het beplanning vir enige gebeurlikheid gedoen en hou die situasie fyn dop. “Al die raffinaderye werk volstoom en Sapia-lede werk hard om enige agterstande uit te wis.”
Tshifularo het motoriste gemaan om nie petrol in houers op te gaar nie. “Dit is uiters gevaarlik en ook onwettig.”
Solidariteit het Dinsdag gesê die werkgewers bied ’n 8%-verhoging aan alle werkers, behalwe dié op die laagste vlak, vir wie ’n 10%-verhoging aangebied word.
Sowat 70 000 werkers het verlede Maandag begin staak. Hulle dring aan op ’n minimum salaris van R6 000 per maand en ’n werkweek van 40 uur.
“Ons neem die aanbod nou na ons lede en sal hopelik voor die einde van die week tot ’n vergelyk kom,” het me. Moira-Marie Kloppers, woordvoerder van Solidariteit, oor die jongste aanbod gesê. “Dit is ’n krisis en ons wil nie die land gyselaar hou nie en hoop om die onderhandelings so gou moontlik af te handel.”
Volgens Gary Ronald, woordvoerder van die Automobiel-Assosiasie, “sypel” brandstof stadig deur na vulstasies.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld