Staking bedreig nou eksamen
2010-08-24 06:38
Kaapstad en Pretoria – Die September-eksamen is in die gedrang indien die landwye staatsdiensstaking onbepaald voortsleep, het verskeie vakbondleiers gister gewaarsku.
Die Wes-Kaap se September-eksamen, wat volgende Woensdag moet begin,is veral vir matrikulante belangrik omdat dit deel van leerders se deurlopende evaluering – wat 25% van hul finale punt uitmaak – insluit.
Heelwat tersiêre onderwys-instellings en kolleges vir verdere onderwys en opleiding vereis dié punte tydens hul aansoekproses.
Intussen het ’n groep van sowat 500 stakers – die meeste van hulle onderwysers – gister verkeer op die N2 in Kaapstad naby die Borcherds Quarry-afrit sowat ’n uur lank ontwrig. Die polisie moes ’n waterkanon gebruik om die groep uiteen te jaag.
“Niemand is hegtenis geneem nie, maar ’n saak van openbare geweld word ondersoek,” het kapt. Ntomboxolo Sitshitshi gesê.
“Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sal mooi moet besin of die eksamens wel volgende week kan plaasvind,” het mnr. Ezrah Ramasele, president van die Nasionale Professionele Onderwysorganisasie (Naptosa), gesê.
“Ek kan nie sien dat dit moontlik gaan wees nie. Onderwysers moet in die klas wees om dit te administreer.”
Die Oos-Kaapse onderwysdepartement het reeds aangedui dat dié eksamen met ’n week uitgestel is.
Mnr. Nkosana Dolopi, adjunk-sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), het gesê dit sal van die regering afhang of onderwysers in klaskamers sal wees om eksamens te administreer.
“Die werkgewer alleen sal die lengte van die staking bepaal.”
Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het skoolhoofde aangeraai om te kyk wat die opdrag is wat hulle van provinsiale departemente in dié verband kry.
“As die onderwyshoof opdrag gee om die eksamens uit te stel, moet dit gedoen word. As skole nie ’n opdrag van die onderwyshoof kry nie en provinsiale vraestelle die skool nie betyds bereik in terme van die rooster nie, moet skole hul eie vraestelle skryf. Dit sal hulle in staat stel om jaarpunte ooreenkomstig met nasionale beleidsvoorskrifte te bereken,” lui ’n nuusbrief aan skole.
Wat vakke soos rekenaartoepassingstegnologie betref, waar provinsies gereël het om almal dieselfde vraestel te skryf, sal ’n nuwe datum bepaal moet word.
Dr. Granville Whittle, woordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys, het gesê die situasie word gemonitor en die departement sal provinsies teen die einde van die week adviseer oor of dié eksamens voortgaan of vir eers uitgestel moet word.
Die WKOD het egter by monde van me. Bronagh Casey die versekering gegee dat die September-eksamen volgens beplanning sal voortgaan.
“Ons sal alles in ons vermoë doen om skole te ondersteun en distriksamptenare na skole ontplooi waar groot getalle onderwysers afwesig is.”
Daar het gister 5655 Wes-Kaapse onderwysers uit 31808 gestaak en 75 skole was gesluit.
Sadou het aanvalle op sy stakende lede veroordeel.
Die vakbond het in ’n verklaring gesê hy is bekommerd oor die “intimiderende oorlogpraatjies” wat die werkgewer gebruik.
Hy meen dit kan toegeskryf word aan ’n hofinterdik wat in die naweek oor noodsaaklike dienste gekry is.
Sadou het beklemtoon dat hy nie deur dreigemente van die staat geïntimideer gaan word nie en dat hy sy aksies gaan verskerp.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger