Staking: Man sterf ná rubberkoeël hom tref
2013-01-15 14:13
Kaapstad – 'n Man is in 'n hospitaal dood ná hy Maandag na bewering in De Doorns deur die polisie met 'n rubberkoeël geskiet is, het die SABC en Daily Maverick Dinsdag berig.
Joanne Otto, kommunikasiebeampte van die Kaapse Wynlande se gesondheidsdepartement, het aan Daily Maverick bevestig dat 'n inwoner van De Doorns dood is as gevolg van beserings wat deur 'n rubberkoeël veroorsaak is.
Saun Yamta, plaaslike gemeenskapsleier, het die man as die 24-jarige Letsekang Thokoene geïdentifiseer. Hy het gesê die slagoffer se familie is van sy dood in kennis gestel.
“Ná hy in die Worcester-hospitaal opgeneem is, is die manlike pasiënt na die Tygerberg-hospitaal verskuif, waar hy gisteraand dood is.”
Yamta sê Thokoene was nie by die staking betrokke nie, en dat hy vroegoggend uit sy huis in Stofland geroep is.
Yamta het volgens die publikasie gesê die slagoffer is van naby geskiet, en dat die gemeenskap gesien het hoe die voorval gebeur.
Die SABC het berig dat verskeie inwoners uit hul huise geroep is. Die uitsaaier het ook gesê die rubberkoeël het die oorledene in sy kop getref.
Die situasie in die Hexriviervallei is tans kalm ná gister se gewelddadige betogings. Werkers dring steeds daarop aan dat hulle daaglikse loon na R150 verhoog word.
Openbare sittings oor die hersiening van plaaswerkers se minimum lone sal Dinsdag in die Wes-Kaap voortduur.
Die eerste sitting het Maandagaand in Grabouw plaasgevind. Die tweede sal Dinsdag in die Paarl gehou word.
Byeenkomste is ook vir die res van die week vir De Doorns, Robertson, Oudtshoorn en Vredendal beplan.
– Lees hier meer.