Staking: onderhandelings onsuksesvol
2011-07-12 16:16
Johannesburg – Loononderhandelings in die ingenieursektor was tot dusver onsuksesvol, het die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe (Seifsa) Dinsdag gesê.
"In hierdie stadium is daar te veel verskille tussen die twee partye en dit is onwaarskynlik dat die staking binnekort ten einde sal loop," het David Carson, uitvoerende direkteur van Seifsa, gesê.
Seifsa het die afgelope naweek en Maandag samesprekings met die metaalwerkersvakbond Numsa gevoer. Verdere onderhandelings sal dalk later vandeesweek gehou word.
Meer as 120 000 ingenieurswerkers eis verhogings van 10% tot 13% en die afskaffing van arbeidsmakelaars.
Die staking deur Numsa het verlede week begin. Ander vakbonde in die sektor wat ook staak is die Metaal en Elektriese Werkers-vakbond van Suid-Afrika (Mewusa) en die SA Equity Workers' Association.
Stakende werkers sal Dinsdag na die Durban-stadsaal opruk om 'n versoekskrif aan Seifsa te oorhandig. Hulle sal deur Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, gelei word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA