Stakers slaan toe op skole
2010-08-17 08:13
Volksblad
Pretoria - Chaos het Maandagoggend by verskeie laer- en hoërskole in die Vaaldriehoek uitgebreek toe stakende onderwysers onregmatig toegang tot dié skole verkry en leerlinge en onderwysers geïntimideer het.
Na verneem word, was daar wanorde en in sommige gevalle is skade aangerig by skole soos die Hoërskool Vereeniging, Gen. Smuts High School, Riverside High School, Selborne Primary en die Laerskool Handhawer.
Hoofde en onderwysers vrees verdere viktimisering en aanvalle en het almal versoek om anoniem te bly.
Dié onwettige optrede is in stryd met die besluit wat vakbonde vroeër geneem het om voorlopig vir net een dag (verlede Dinsdag) te staak. Die vakbonde kondig Dinsdag aan of hulle die staat se salarisaanbod van 7% en ’n huistoelae van R700 per maand aanvaar.
Chris Klopper, voorsitter van die onafhanklike arbeidskoukus (ILC), het Maandag se protesoptrede skerp veroordeel en gesê dit is heeltemal onaanvaarbaar.
’n Gr. 10-leerling van die Hoërskool Vereeniging het gesê hulle het toets geskryf toe sowat 100 betogers, vermoedelik onderwysers van ander skole, by die klaskamers ingestorm en hulle begin rondruk en stamp het.
Hulle is aangesê om almal na die paviljoen te gaan.
Volgens die seun was die betogers aggressief en het hulle vuvuzelas en stokke by hulle gehad.
“Ons was nogal bang en het maar gemaak soos hulle sê.”
Die seun het beweer hy het gesien hoe van die stakers ’n onderwyseres in die gesig klap en hul toetse opskeur.
Nog ’n ma van ’n 17-jarige leerling het in ’n e-pos aan Beeld, susterkoerant van Volksblad, gesê haar dogter was histeries toe sy haar gebel en van die gebeure vertel het.
“Die kinders is ook gedreig dat hulle sal seerkry as hulle hul ouers bel. Ek sit 15 km van die skool af en dit voel of ek van my kop af wil raak, omdat ek nie seker is of my kinders veilig is of nie!”
’n Onderwyser by die Gen. Smuts High School het vertel hoe betogers die skool se draad geknip en platgetrap het om toegang te kry. Dié groep het onder meer sambokke by hulle gehad, vensters gebreek en asblikke van die eerste verdieping afgegooi.
Hy het gesê leerlinge se reg tot onderrig is ontneem en onderwysers is nie toegelaat om hul werk te doen nie.
“Waar gaan die land se morele waardes heen?
“Ek was uitgekryt as ’n rassis en een van die betogers het aan my gesê dit is nie meer die apartheidsera nie en dat dit (die betoging) niks met my te doen het nie.”
Na verneem word, is tientalle leerlinge en onderwysers uit vrees vir hul veiligheid vroeër huis toe. Van hulle is ook te bang om Dinsdag terug te keer nadat van die stakers gedreig het om skole af te brand.
Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het sy “skok en teenkanting teen die barbaarse optrede uitgespreek”.
Hy het skole wat lede van Fedsas is, aangeraai om die polisie se hulp in te roep.
Hy het gesê as daar ’n noodsituasie is, moet beheerliggame skole sluit en ’n interdik teen die betogers kry.
Charles Phahlane, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het gesê die departement veroordeel die ontwrigting van leer en onderrig en die vernietiging van eiendom in die skole ten sterkste.
’n Beroep is op onderwysers gedoen om hul reg om te betoog só uit te oefen dat dit nie op ander se regte inbreuk maak nie.
- Volksblad