Stakende Gautrein-busbestuurders afgedank
2012-02-06 11:00
Johannesburg – Die Gautrein-busbestuurders wat aan onwettige stakings deelgeneem het, het Maandagoggend afdankingsbriewe ontvang, het die Bombela-kosessie gesê.
“Die dissiplinêre proses is Vrydagaand voltooi en die bestuurders wat deelgeneem het, het reeds afdankingsbriewe ontvang,” het woordvoerder Errol Braithwaite gesê.
“MegaExpress sal vandag (Maandag) planne in plek stel om die busdienste so gou moontlik weer te hervat.”
“Die bestuurders het op 1 Februarie ‘n ultimatum geïgnoreer wat vereis het dat hulle teen 15:00 moet terugkeer werk toe. ‘n Hofinterdik is verlede maand uitgereik wat bestuurders gedwing het om terug te keer werk toe.
Volgens Braithwaite het die bestuurders hul eie hofaansoek ingedien om ‘n dissiplinêre verhoor te vermy, maar dit is deur die Johannesburgse arbeidshof verwerp. Sommige van die bestuurders is afgedank.
Die Gautrein-busbestuurders, wat voorheen lede van die SA Transport and Allied Workers' Union (Satawu) was, het die vakbond verlaat en tree nou onafhanklik op.
Bestuurders het verlede maand begin staak, aangesien hulle vereis het dat MegaExpress, die Gautrein se busoperateur, hulle elke dag voorsien met vervoer van hul huise na hul werk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA