Stadsraad en rugbyunie praat nou oor stadion
2010-10-16 07:13
Theuns van der Westhuizen
Kaapstad - Die Kaapse stadsraad en die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) het vandeesweek begin met ’n reeks gesprekke oor die gebruik van die Kaapstad-stadion.
Die gesprekke, waarvan die eerste Donderdag was, volg op skynbare ongedurigheid tussen die twee oor die benutting van die nuwe stadion en die betaling van sekere dienstegelde by die Nuweland-stadion.
Mnr. Theuns Roodman, be- stuurshoof van die WPRU, en mnr. Pieter Cronjé, woordvoerder van die Kaapse stadsraad, het gister bevestig die eerste gesprek het plaasgevind.
Roodman het gesê: “Ja, daar was so ’n gesprek, en ja, dit was ’n verkennende gesprek. Meer as dit kan ek nie sê nie.”
Cronjé het by navraag gesê: “Daar was so ’n gesprek tussen mnr. Dave Hugo (2010- tegniese direkteur van die raad) en die WP Rugbyunie en die gesprek sal voortgesit word soos en wanneer dit nodig is.
“Dit is deel van verkennende gesprekke oor die toekomstige benutting van die Kaapstad-stadion, sodat dit optimaal as ’n veeldoelige stadion bestuur en gebruik kan word.”
Gevra of daar druk op die WP Rugbyunie geplaas word om die nuwe stadion te gebruik, het Cronjé gesê: “Nee, die stadsraad plaas geen druk op enige liggaam nie – nie deur middel van argumente of dienstegelde nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger