Stadions se rugbybom
2010-08-18 06:44
Die Burger
Kaapstad - Nie rugby óf krieket sal vir eers in Kaapstad en Durban se nuwe sokkerstadions gespeel word nie.
Dié bom is Dinsdag deur bestuurslede van dié sportkodes gelos gedurende ’n parlementêre sessie waar Wêreldbeker-gasheerstede moes verduidelik hoe hulle die instandhoudingskoste van dié stadions gaan dek.
Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het gesê die munisipaliteite in Kaapstad en Durban het nie met hulle geraadpleeg voor die bou van die stadions nie en die partye bevind hulle nou in ’n “doodloopstraat” wat betref die gebruik van die stadions deur die unies.
Krieket Suid-Afrika (KSA) se bestuurshoof, Gerald Majola, het op sy beurt gesê Suid-Afrika sal nie in staat wees om ’n groot internasionale kriekettoernooi in dié stadions aan te bied nie.
“Die stadions is heeltemal te klein vir krieket,” het hy aan lede van die portefeuljekomitee oor sport en ontspanning gesê en aangevoer daar is nie vooraf oorleg gepleeg met KSA oor die grootte van die stadions nie.
Volgens hom het net die Moses Mabhida-stadion in Durban straks die potensiaal om in ’n krieketveld omskep te word. “Ons het gehoop die stadions sou KSA help om gebiede wat ons nog nooit kon bereik nie binne te dring, spesifiek Rustenburg, Polokwane en Nelspruit.”
Komiteelede was openlik geskok oor dié oorsigfout. “Hoekom het niemand met KSA gepraat nie? Krieket is een van ons grootste sportsoorte. Ek dog die stadions is nie net vir sokker bedoel nie,” het Thandile Sunduza, ANC-LP, uitgevaar.
Hoskins het die regering gevra om in te gryp ten einde die geskille tussen die eThekwini- en die Kaapse munisipaliteite en provinsiale rugbyliggame uit te stryk.
Dit is volgens hom die enigste twee stede waar die nuwe stadions “feitlik reg langsaan” bestaande rugbystadions gebou is.
“Die Sharks-rugbyunie het ’n yslike probleem met die samestelling van die nuwe stadions. Hy benodig byvoorbeeld 400 private losies, terwyl die sokkerstadion net sowat ’n kwart daarvan kan bied.
“Ek moet eerlik wees, dis tragies dat ons nou in trurat moet optree. Hierdie gesprek moes vóór die Wêreldbeker-toernooi reeds plaasgevind het,” het Hoskins gesê.
Hy het ook gesê daar is ’n “totale ineenstorting” in gesprekke tussen die Westelike Provinsie-rugbyunie en die Kaapstad-munisipaliteit oor die gebruik van die stadions.
Hy het egter nie besonderhede verskaf oor die presiese aard van die probleme nie.
Dit gaan Kaapstad sowat R46,5 miljoen per jaar kos om sy nuwe sokkerstadion in stand te hou.
Ook Polokwane in Limpopo het erken hy gaan spartel om die Peter Mokaba-stadion te laat oorleef. Sy instandhoudingskoste word op tussen R20miljoen en R25miljoen per jaar bereken, en die stad begroot slegs R17miljoen uit sy eie sak.
Leslie de Reuck, koördineerder van Kaapstad se 2010-program, het gesê die bedrag van R46,5miljoen sluit nie in voorsiening vir onbeplande kostes soos die vervanging van die stadion se dak, kragopwekkers of gewels nie.
Volgens hom moet daar egter nog bereken word hoeveel presies van die nasionale regering benodig gaan word.
Verteenwoordigers van die gasheerstede het toegegee hulle sal die stadions met ander toeristetrekpleisters in die onderskeie stede moet kombineer ten einde die stadions te laat oorleef.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger