Stad pak Sanral in hof oor tolpaaie
2011-12-06 11:03
Kaapstad – Die stad Kaapstad sal die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) se tolprojek vir die N1 en N2 in die Kaapse hooggeregshof teenstaan.
Die hof moet verklaar of daar 'n dispuut tussen Sanral en die stad is oor die implementering van dié tolpaaie.
Sanral beplan om padwerke vir die voorgestelde tolpaaie op die N1 en N2 in Februarie te begin, maar die stad is bekommerd oor die sosio-ekonomiese impak wat die tolpaaie op Kaapstad sal hê.
Die stad het 'n dispuut met die departement van vervoer verklaar, maar Sanral ontken dat 'n dispuut bestaan.
Die agentskap het Protea Parkways Consortium (PPC) as sy verkose bieër aangewys. PPC-konsortuim bestaan uit privaatbeleggers en vennote van die Suid-Afrikaanse regering en beskik oor 'n span "hoogs gekwalifiseerde kontrakteurs".
Bouwerk van die 175 km-projek sal sowat drie jaar duur.
"Die N1/N2 en Wynlanddistrik-tolprojek sal padkapasiteit verhoog, veiligheid verbeter en koste bespaar in terme van voertuigloopkoste en minder tyd sal op die pad deurgebring word," het Sanral vroeër gesê.
Die koste van die projek sal R10 miljard beloop.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA