Stad dreig met interdik oor tolpaaie
2011-09-24 07:05
Kaapstad - Die Kaapse stadsraad wil ’n hofinterdik kry om enige verdere stappe in die N1- en N2-Wynland-tolprojek te keer.
Dit word beoog nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) laat blyk het sy doelwit is om reeds einde Februarie met bouwerk aan dié R10 miljard-tolprojek te begin.
Die groot vraag wat die stadsraad beantwoord wil hê, is of die opgradering van die paaie werklik nodig is.
“Sanral se aankondiging dat bouwerk einde Februarie gaan begin, het regstappe deur die Kaapse stadsraad baie meer dringend gemaak.
“Ons is nie formeel deur Sanral ingelig wanneer bouwerk gaan begin nie, maar Februarie en Maart is die maande wat ons gehoor het,” het Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, gister gesê.
Die stadsraad het besluit hy kan regsoptrede nie langer uitstel nie en het sy senior regspan opdrag gegee om die papierwerk reg te kry om ’n interdik teen enige verdere stappe deur Sanral te bekom.
“Ons moet Kaapstad beskerm. Die stadsraad het dit duidelik aan Sanral gestel dat ons bekommerd is oor die sosiaal-ekonomiese impak wat tolpaaie op dié twee paaie, op Kaapstad en veral op arm gemeenskappe gaan hê.”
Herron het gesê selfs nadat die stadsraad ’n inter-regeringdispuut met Sanral verklaar het, het die padagentskap voortgegaan om ’n voorkeur-bieër aan te wys en konstruksiedatums aangekondig.
Eye Witness News het Vrydag berig Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral, het gesê werk aan die N1-Wynlandroete gaan eerste begin en Sanral het ’n sperdatum om die projek teen einde Februarie te begin.
Die Burger het vroeër berig ’n voorkeurbieër as konsessiehouer vir die twee tolpaaie, Protea Parkways-konsortium, is reeds aangekondig.
Die konstruksiemaatskappye Group Five en Basil Read, asook ’n Franse maatskappy, Bouygues Travaux Public, vorm die konsortium.
Die projek sluit in dat die N1 wes van die R300 tot by De Doorns en die N2 wes van die R300 tot by Botrivier as tolpaaie bedryf word.
Die voorgestelde N1-tolpad is 105,8 km lank en die N2-tolpad 70,3 km.
Die tolpad-planne het reeds groot teenstand ontlok vanuit die landboubedryf, spesifiek van die uitvoerders van sagtevrugte van Grabouw en Elgin en tafeldruiwe vanuit die Hexvallei.
Die Breedevallei-munisipaliteit meen die proses om die N1-tolpad tussen Worcester en De Doorns te vestig, is tot nou toe onwettig uitgevoer deur Sanral.
Die Breedevallei-stadsraad het ook besluit om appèl aan te teken ingevolge die Nasionale Wet op Paaie se voorskrif vir die proses van konsultasie om ’n tolpad te verklaar.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger