Stad Pretoria, metro Tshwane ‘ideaal’
2010-02-12 09:58
Kaapstad. – Wat hóm betref, moet die hoofstad se naam Pretoria bly terwyl die metrogebied Tshwane kan heet.
Dít is ’n oplossing wat vir almal sal werk, het Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, gister in ’n onderhoud met Beeld gesê.
Hy het gesê Lulu Xingwana, minister van kuns en kultuur, sal beslis voortgaan met ’n uitgebreide proses van openbare deelname sodat alle belanghebbendes bydraes kan lewer.
“Die ideale oplossing sal wees waar die stad Pretoria einn die groter gebied Tshwane is...só ’n oplossing sal almal betrek, maar kan slegs bereik word deur onderhandeling.
“Ek sien rooi wanneer Afri-Forum daarop aandring dat die stad Pretoria bly en die stadsraad daarop aandring dat die stad Tshwane word, want ek weet dit stuur op konfrontasie af.”
Mantashe het gesê dis belangrik dat Afrikaners bewaar wat vir hulle kosbaar is, maar hulle moet ook erkenning gee aan geskiedkundige werklikhede – soos oorloë wat daartoe gelei dat oorspronklike inwoners van Pretoria verdryf is.
Hy het gesê die ANC se uitgebreide uitreikaksie na minderhede voor die verkiesing verlede jaar het ’n uitwerking op sy steun gehad, maar dit dra nog nie vrugte nie.
Navorsing verlede jaar het getoon 3% van wit Suid-Afrikaners steun die ANC en ’n onlangse peiling toon dié syfer het sedertdien tot 6% verdubbel, het hy gesê.
- Beeld