Staatsrede 'stel teleur'
2013-02-15 07:00
Kaapstad – Die president se staatsrede het teleurgestel omdat dit hoofsaaklik ‘n herhaling van mislukte beleidsoplossings was wat voorheen deur die regering voorgestel is, het die Vryheidsfront Plus gesê.
Dr Pieter Mulder het sy ontevredenheid met die staatsrede, wat Donderdagaand in die parlement in Kaapstad deur pres. Jacob Zuma gelewer is, in 'n verklaring uitgespreek.
Mulder het gesê dié beleidsoplossings het tot op hede nie daarin geslaag om werk te skep, beleggings aan te moedig of korrupsie te bestry nie.
"Deurlopend was daar geen detail oor byvoorbeeld hoe die jeugwerkloosheid opgelos gaan word of oor hoe korrupsie beter bestry gaan word nie," het hy in die verklaring gesê.
Die party het wel Zuma se belofte om streng op te tree teen betogings wat eiendom vernietig en tot geweld oorgaan, verwelkom.
"Geen land wat buitelandse beleggings wil trek, kan bekostig dat die beeld na buite uitgedra word dat die regering nie in staat is om wet en orde te handhaaf nie," het Mulder gesê.
"Die beklemtoning van die Nasionale Ontwikkelingsplan word verwelkom. Hoe dit egter prakties uitgevoer gaan word, sal die sukses of nie daarvan bepaal.
"Wat Suid-Afrika tans nodig het is sekerheid en hoop. Die president het nie daarin geslaag om met sy staatsrede een van hierdie twee te bied nie."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24