Staatsdiens-stakers wil Suid-Afrika vandag ‘tot stilstand ruk’
2010-08-10 06:52
Die Burger
Kaapstad - “Bly liefs vandag uit die stad.”
Dié waarskuwing het Maandag opgeklink uit vakbondgeledere wat beloof het dat vandag se landwye staking deur derduisende staatsdienswerkers die land tot stilstand gaan ruk.
Twee groot optogte – in Kaapstad en Pretoria – word vir Dinsdag beplan. In ander stede en dorpe sal kleiner groepe na provinsiale wetgewers opruk.
In die Wes-Kaap gaan sowat 15 000 Cosatu-lede aan ’n optog na die parlement deelneem en ’n verdere 65 000 sal staak, het Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris, Maandag aan Die Burger gesê.
Die grootste getalle word uit die onderwyssektor verwag, wat skole erg kan ontwrig.
Die optog in Kaapstad, wat om 11:00 in Keizergracht begin, word gelei deur Cosatu se nasionale sekretaris, Zwelinzima Vavi.
Die regering en vakbonde kon ondanks ’n reeks onderhandelingsessies nie tot ’n vergelyk kom oor salarisverhogings en ander werksvoordele nie.
Cosatu en die Onafhanklike Arbeidskoukus het einde verlede week die regering se hersiene verhogingsaanbod van 7% en sy onveranderde R630 vir behuising verwerp. Hy eis ’n salarisverhogingspakket van 8,6% en ’n huistoelae van R1 000, terugwerkend tot 1 April.
Altesaam 150 000 betogers word in Pretoria verwag, waar ’n memorandum aan die minister vir die staatsdiens en administrasie, Richard Baloyi, oorhandig gaan word.
Cosatu verteenwoordig sowat 1,3 miljoen werkers in die staatsdiens. Sy nasionale woordvoerder, Patrick Craven, het gesê hy verwag dat die meerderheid van die lede vandag gaan staak.
Ehrenreich het die publiek gewaarsku om liefs die Kaapse middestad te vermy wanneer die optog aan die gang is, aangesien ’n massa optoggangers die strate gaan beset. “Werkers gaan hul misnoeë uitspreek oor die staat se swak salarisse wat glad nie tred hou met die private sektor nie.”
Die vakbonde eis binne 24 uur ’n antwoord van die regering. Indien nie, sal hy daarna op verdere optrede besluit.
Gebeurlikheidsplanne sal by skole en hospitale geld.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger