Staat vergoed nie dié wapeneienaars
2012-12-04 11:25
Bloemfontein – Vuurwapeneienaars wat vrywilliglik hul wapens aan die polisie gegee het om te verwoes, sal nie deur die staat vergoed word nie, het die appèlhof beslis.
Die hof het Vrydag die Justice Alliance of South Africa en die Valsbaai-vuurwapenklub se aansoek om appèl teen 'n uitspraak in die Wes-Kaapse hooggeregshof van die hand gewys.
Die hooggeregshof het beslis dat die minister nie sy regskapasiteit oortree het toe riglyne gepubliseer is nie.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het die uitspraak verwelkom.
Sowat 180 000 vuurwapens is vrywillig tussen Januarie 2005 en Maart 2009 aan die polisie oorhandig, het Zweli Mnisi, die minister se woordvoerder, gesê.
Die hooggeregshof het beslis dat die minister nie sy regshoedanigheid oortree het toe die riglyne gepubliseer is nie. Ingevolge die riglyne is wapeneienaars wat hul vuurwapens aan die polisie oorhandig het nie geregtig op vergoeding nie.
Mnisi het gesê die meeste van die vuurwapens wat aan die polisie oorhandig is, is verwoes.
Hy het verder gesê indien die polisie beveel sou word om vergoeding te betaal, sou dit die staat tot R170 miljoen uit die sak jaag.
Mnisi het gesê strenger beheer oor eienaarskap, die besit en gebruik van vuurwapens het 'n vermindering in vuurwapen-verwante misdade veroorsaak.
Die hof het verder beslis dat klein veranderings aan die riglyne gemaak moet word.
"Die minister sal binnekort aandag skenk aan die veranderings."
Hy het gesê die ministerie het maatreëls in plek gestel om te verseker dat die vuurwapens in die hande van die polisie en sekuriteitsbeamptes gemonitor word om die verlies en misbruik daarvan te verhoed.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA