Staat vat bankrot Limpopo
2012-01-20 07:06
Kaapstad. - Limpopo se bankrot regering is gister van alle uitvoerende mag gestroop en deur die nasionale regering oorgeneem.
Die provinsie het van verlede jaar af aanhou geld uitgee wat hy nie gehad het nie – ondanks waarskuwings van die tesourie.
Na verwagting sal die provinsie einde Maart R2 miljard in die rooi wees.
Limpopo is onder administrasie van die nasionale tesourie geplaas.
“Alle uitvoerende magte van Limpopo is nou in die hande van die nasionale departemente, al is die provinsiale amptenare steeds in die stelsel,” het Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, gesê.
Mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, het gister op ’n mediakonferensie in Polokwane gesê Limpopo se opgehoopte ongemagtigde uitgawes het van R1,5 miljard in 2009 tot R2,7 miljard in 2011 toegeneem.
Die provinsie se oortrokke rekening beloop tans naastenby R1 miljard.
“Die provinsie het verlede jaar aanhou geld uitgee wat hy nie gehad nie, ondanks herhaalde waarskuwings deur die tesourie dat die provinsie nie genoeg geld sou hê om sy 2011-’12-verpligtinge na te kom nie.
“’n Mens kan nie met net R50 in jou sak R100 bestee nie.”
Gordhan het hom ook uitgespreek teen pogings van senior provinsiale amptenare om die staat se regrukpoging te saboteer.
Manyi het gesê dié amptenare kontak glo diensverskaffers in die provinsie en sê hulle moenie dienste lewer nie, byvoorbeeld om kos aan pasiënte in hospitale te voorsien.
“Daar word aan die diensverskaffers gesê daar is nie geld nie, al het die nasionale regering ’n waarborg gegee dat hy alle regmatige fakture sal betaal.”
As korrupsie of ander onreëlmatighede bewys word, sal die regering streng optree, het Manyi gesê.
Cassel Mathale, premier, het gesê hy vertrou die ingryping geskied met die “beste bedoelings”.
“Ons sal ten nouste met die nasionale regering saamwerk.”
Mathale pak die skuld vir die provinsie se geldelike verknorsing op die koms van die beroepspesifieke bedeling vir die gesondheids- en die onderwysdepartement wat hul begrotings “deurmekaar gemaak” het.
Mathale het gesê die provinsie sal sy oortrokke rekening teen 2013-’14 delg deur uitgawes te verminder.
“Pleks van 100 huise te bou, sal ons nou 80 bou. Pleks van tien nuwe skole, sal ons agt nuwe skole bou. Ons sal egter nie aan mense se salarisse raak nie.”
Die premier het gesê hy weet nie waarom Limpopo eerste uitgesonder word nie.
“Ek’s seker die regering sal ook elders intree indien nodig.”
Volgens Manyi sal die regering nie huiwer om indien nodig ook in ander provinsies in te gryp nie.
“Die ander provinsies het probleme, maar nie een is in dieselfde situasie as Limpopo nie. Ander provinsies se geldsake lyk byvoorbeeld beter.”
Die ouditeur-generaal het vandeesweek gesê provinsiale departemente het in die 2010-’11-boekjaar onreëlmatige uitgawes van R16,2 miljard aangegaan en R850 miljoen verkwis.
Manyi het gesê die regering het ’n stelsel wat die provinsies se prestasie monitor.
“Dit was juis dié stelsel wat die nasionale tesourie se aandag op Limpopo gevestig het.
“Ons sal ook nie huiwer om diegene wat aan wanbestuur of korrupsie skuldig is te straf nie.
Die regering beweeg soms stadig, dit is maar demokrasie. Maar dinge gebeur.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger