Staat sluit saak af teen Lindley-beskuldigdes
2011-06-02 12:51
Bloemfontein – Die staat het Donderdag sy saak teen die ses mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die Potgieter-gesin op hul plaas in Lindley in die Vrystaat vermoor het afgesluit.
Ao. Danie Bierman, ondersoekbeampte, het sy getuienis as die saak se laaste getuie afgehandel, terwyl die verdediging van die ses mans hul kruisondervraging afgehandel het.
Lawrence Tshabalala, wat namens Klaas Mofokeng, beskuldigde nommer twee, optree, wou by Bierman weet of hy sy volle samewerking aan die polisie gegee het.
Mofokeng en vyf ander mans tussen die ouderdomme van 18 en 33 word daarvan beskuldig dat hulle Attie Potgieter, sy vrou, Wilna, en hul tweejarige dogter, Wilmien, op 1 Desember 2010 vermoor het.
Tshabalala het aan Bierman gesê Mofokeng gaan ontken dat hy enige deelname aan die moordkomplot gehad het.
Bierman het gesê Mofokeng het 'n week tevore van die aanval geweet en kon dit verhoed het.
Beskuldigde nommer een, Stemmer Mofokeng, het begin met getuienis in sy verdediging.
Stemmer het aan die hof gesê Paulos Khumalo, beskuldigde nommer drie, het hom 'n paar maande voor die aanval besoek en oor die rooftog van die Potgieter-gesin gepraat.
Hy het ook getuig dat hy op die dag van die aanval gesien het hoe mans na die plaashuis loop.
Stemmer het in 'n latere stadium gesien hoe Attie Potgieter in die rigting van die skuur hardloop en deur Tshekolo Lelala, beskuldigde nommer vier, met 'n panga gejaag word.
Hy het getuig dat hy gesien het Attie was te sterk vir Lelala en dat hy om na die grond gestoei het. Beskuldigde nommer vyf, Telleko Seekoei, het toe opgedaag en die boer met iets wat lyk soos 'n mes, in sy rug gesteek.
Die verhoor duur voort.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA