Staat sê meer oor nuwe gesondheidsplan
2011-08-11 09:05
Pretoria – Suid-Afrikaners gaan Donderdag ná maande se gewag uiteindelik meer hoor oor die regering se beoogde nasionale gesondheidsversekeringsplan (NGV).
Die departement van gesondheid hou Donderdagoggend ’n nuuskonferensie in Pretoria waarop terugvoering gegee sal word oor ’n NGV-beleidsdokument waaroor die kabinet gister besluit het.
Dit was die derde keer dat ’n dokument oor dié plan aan die kabinet voorgelê is. Vorige kere is dit telkens terugverwys vir meer werk daaraan.
Die beplande NGV sou onder meer behels dat alle Suid-Afrikaners verplig word om daaraan te behoort en dat mediese dienste gratis is by die punt van lewering.
Dr. Aaron Motsoaledi, nasionale minister van gesondheid, het onlangs op die konferensie van die Raad op Gesondheidsorgfinansiers (RGF) gesê die NGV-beleidsdokument is onder meer vertraag sodat die departement van gesondheid beter vir die stelsel kon voorberei.
’n Deel van die voorbereiding vir die NGV is die opheffing van staatshospitale.
Sy departement het maande lank gewerk aan ’n verslag oor toestande in staatshospitale en publiseer vandeesweek voorgestelde regulasies om staatshospitale volgens ’n eenvormige klassifikasiestelsel in kategorieë in te deel.
Dit kom nadat die verslae onder meer getoon het onbevoegde mense het in bestuursposte by hospitale beland toe daar besluit is om hospitale meer soos sakeondernemings te bestuur.
Die verslag het onder meer getoon 2% van uitvoerende hoofde van hospitale het net matriek en 73% ’n kwalifikasie in gesondheid as hul hoogste opleiding.
Altesaam 10% het ’n sakekwalifikasie en 8% ’n kwalifikasie in openbare administrasie.
Die DA het Woensdag die verslag gekritiseer omdat dit nie die bestuurders se vermoë “objektief geëvalueer” het nie.
Volgens die DA is dit net ’n samevatting van inligting wat werkgewers beskikbaar gestel het.
Die DA wil weet wat die verslag gekos het en hoekom dit so min besonderhede bevat.
Motsoaledi het gesê daar word nou voorgestel dat hospitale in die kategorieë vir distrik-, streek-, tersiêre, sentrale en gespesialiseerde hospitale ingedeel word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger