‘Staat sal skandes nou kan toesmeer’
2010-07-15 06:26
Die Burger
Kaapstad – Die staat sal ’n wetsontwerp wat voorsiening maak vir die beskerming van sensitiewe inligting kan inspan om korrupsie en skandes toe te smeer en ondersoekende joernalistiek te dwarsboom.
Die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting kan dus meebring dat inligting oor tenders wat met die afgelope Wêreldbeker-sokkertoernooi verbind word, geheim gehou word. Dit sal gebruik kan word om staatskontrakte met senior politici toe te smeer.
Dié voorbehoude is vervat in geskrewe voorleggings van verskeie belangegroepe wat daarop aandring dat die wetsontwerp onttrek en herskryf word. Ook die vakverbond Cosatu meen dit is ’n “tree terug vir ons demokrasie”.
Ander organisasies meen die wetsontwerp is “drakonies” en herinner aan “apartheidstyl”- wetgewing.
Openbare verhore sal waarskynlik vir vuurwerk sorg wanneer ’n parlementêre ad hoc-komitee volgende Woensdag vergader om mondelinge betoë aan te hoor.
Die wet sal die staat magtig om inligting in nasionale belang of in die belang van staatsveiligheid te klassifiseer en dit vir tot 20 jaar geheim te hou.
“Dus kan dokumente wat verband hou met staatstenders van die publiek weerhou word,” het mnr. Dave Steward van die F.W. de Klerk-stigting gister gesê.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie meen die wet kan misbruik word om korrupsie, onreëlmatige tenderprosedures en onwettige optrede te verdoesel.
- Die Burger
- Die Burger