Staat sal bepaal hoe groot plaas moet wees
2011-09-01 09:11
Kaapstad. – Die regering gaan tydens besprekingsessies bepaal hoe groot ’n plaas moet wees vir ’n spesifieke soort boerdery om volhoubaar te wees.
Dit sluit aan by die groenskrif op grondhervorming, wat onder meer berus op die beginsel van ’n “grondplafon” – ’n beperking op die hoeveelheid grond wat ’n private eienaar mag besit.
Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het Woensdag op ’n inligtingsessie in die parlement die groenskrif bekend gestel.
Nkwinti het daarna gesê die besprekingsessies sal in die komende maande gehou word. Hy is ’n voorstander van die Brasiliaanse model waar beperkings op private grondbesit bepaal word deur die soort boerdery – selfonderhoudend of kommersieel – en produksie – vir die plaaslike of uitvoermark.
Grondeienaars wat ingevolge die beoogde wetgewing te veel grond het, sal dit waarskynlik aan die staat moet verkoop wat dit op sy beurt sal verhuur.
Buitelanders sal voorts beperkte besitreg hê en op streng voorwaardes grond kan bekom, soos dat dit vir “juiste doeleindes” aangewend moet word om voedselsekerheid te bevorder.
Hoewel die groenskrif dit nie uitstip nie, meen Agri SA die grondliggende filosofie is dat die staat die grootste grondbesitter moet wees. “Beperkings op private grondbesit is een manier om dit reg te kry,” het Annelize Crosby, beleidsadviseur van Agri SA, gesê.
Die “grondplafon” sal beteken dat die regering aan boere sal voorskryf waarmee hulle moet boer aangesien die grootte van ’n plaas die ekonomiese volhoubaarheid van ’n spesifieke boerdery bepaal.
“Dié inmenging gaan gevolge hê. 20% van boere produseer 80% van ons landbouprodukte en hul sukses word daaraan toegeskryf dat hulle nie beperk word nie en kan aanhou uitbrei. Daar word wêreldwyd al hoe groter geboer omdat dit al manier is om winsgewend te bly,” het sy gesê.
Ook die VF+ is sterk gekant teen die voorstel vir ’n “grondplafon” en meen dis ’n resep vir voedseltekorte.
“Deur grondbeperkings op groot boere te plaas, gaan die hele landbou-ekonomie verwring word sonder om die grondhervormingsprobleme op te los,” het dr. Pieter Mulder, partyleier, gesê.
Die groenskrif stel ook ’n nuwe outonome grondbestuurkommissie met wydlopende magte, waaronder om titelaktes te verifieer, geldig en ongeldig te verklaar, in die vooruitsig.
Die beginsel van gewillige koper/verkoper word as ’n “swak plek” uitgesonder en die voorstel is dat ’n nuwe statutêre evalueringsmeganisme – ’n grondwaardeerder-generaal – die “verwringing in die grondmark” moet takel. Dié liggaam sal ook bepaal teen watter vergoeding grond onteien sal word.
Nkwinti het die staat se eie onvermoë om beleid in werking te stel as die grootste struikelblok geïdentifiseer en volgehou plase moet ná grondhervorming steeds “100% produktief” wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger