Staat roep nog getuies in Jub Jub-verhoor
2011-10-13 10:41
Johannesburg – Die verhoor van Molemo "Jub Jub" Maarohanye en sy medebeskuldigde Themba Tshabalala betree Donderdag sy vierde dag in die Protea-landdroshof.
Die staat sal na verwagting nóg drie getuies roep.
Die ongeluk-rekonstruksiekenner Renier Balt sal sy getuienis Donderdag afhandel.
Balt is sedert Maandag in die getuiebank en het sy ontleding gegee van wat veroorsaak het dat die Mini Coopers van Maarohanye en Tshabalala omslaan.
Maarohanye en Tshabalala het na bewering op 8 Maart verlede jaar in 'n groep skoolkinders geploeg.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen.
Maarohanye en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA