Staat het prima facie-saak teen Oscar – Byleveld
2013-02-25 11:40
Pretoria – Die baasspeurder Piet Byleveld glo die staat het tot 'n sekere mate 'n prima facie-saak teen die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, berig JacarandaFM.
"Ek sê altyd moord is moord. Die polisie moet die ondersoek deeglik doen, maar ek dink die staat het tot 'n sekere mate 'n prima facie-saak teen hom," het Byleveld gesê oor die saak teen Pistorius weens die dood van sy vriendin, Reeva Steenkamp.
Op die vraag of die verdediging kan probeer om die staat se saak te diskrediteer, in ag genome dat Hilton Botha as ondersoekbeampte vervang is, het Byleveld gesê dit kan 'n opsie wees.
"Dit is moontlik. Hulle kan ingevolge artikel 174 aansoek doen om die aanklag te laat vaar. Dit kan definitief gebeur. Hulle is in 'n posisie om dit te doen. Dit is hoekom dit so belangrik is dat die polisie hulle huiswerk doen."
Pistorius word daarvan beskuldig dat hy Steenkamp op Valentynsdag in sy huis in die ooste van Pretoria vermoor het. Hy het dié aanklag ten sterkste betwis. Die Paralimpiese atleet is Vrydag borgtog van R1 miljoen toegestaan en sal op 4 Junie weer in die hof verskyn.
"Die staat moet seker maak hy doen sy ondersoek deeglik. Omstandigheidsgetuienis kan ook 'n groot rol speel, ek het dit al in my sake ook gesien. Die ballistiese bewyse gaan ook 'n groot rol speel," het Byleveld gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter