Staat: Oortuigende bewyse van koelbloedige moord
2012-08-23 23:02
Kimberley – Die staat sal drie aanklagte van moord teen ‘n 16-jarige seun wat aangekla is van die moord op ‘n Nood-Kaapse familie probeer bewys, het die Griekwastad-kinderhof Donderdag gehoor.
Die aanklaer Hannes Cloete het dié inligting bekendgemaak tydens sy argument teen die tiener se borgaansoek.
Deon Steenkamp (44) sy vrou Christel (43) en hul dogter Marthella (14) is op 6 April op hul plaas Naauwhoek in die Noord-Kaap doodgeskiet.
Cloete het aan die hof gesê die direkteur van openbare vervolgings beplan om die seun met drie aanklagte van voorbedagte moord aan te kla.
Hy sê die oortredings is skedule ses-misdrywe wat volgens die strafproseswet vereis dat buitengewone omstandighede moes bestaan het vir borgtog om toegestaan te word.
Cloete het geargumenteer dat daar duidelike bewyse behoort te wees dat hierdie omstandighede bestaan het.
Die seun se prokureur, Willem Coetzee, het twee getuies na vore geroep in ondersteuning van die borgaansoek.
Die eerste het getuig dat hy en sy familie na die seun omsien.
Die getuie het gesê hy en die seun het ‘n oop verhouding, maar dat hy nie weet wat die seun se gevoelens oor die saak is nie.
Die seun vaar goed op skool en is in geen posisie om in te meng met die staat se saak nie, het die getuie gesê.
Hy het gesê dit sal goed wees as die seun se lewe so naby moontlik aan normaal gehou word deur hom toe te laat om steeds skool toe te gaan.
Hy het ‘n sterk ondersteuningsbasis deur sy familie en by die skool.
‘n Maatskaplike werker, wat ‘n privaat praktyk het, het getuig dat hy die seun behandel.
Volgens hom sal dit die beste vir die seun wees as hy in ‘n stabiele omgewing gehou word, soos om skool toe te gaan en deur sy familie ondersteun te word.
Die staat het tydens die kruisverhoor van die eerste getuie gesê dit sal niemand help om weg te skram van die waarheid nie.
Cloete het saamgestem dat die seun nie in staat sal wees om in te meng met staatsgetuies of bewyse nie, maar sê die hof het ‘n verpligting om die seun se skoolmaats in ag te neem.
Die staat het aangevoer hy het ‘n sterk saak teen die seun, maar het geen verdere besonderhede gegee nie.
Cloete sê daar is oortuigende bewyse dat die seun die Steenkamp-familie koelbloedig vermoor het.
Hy het gesê die ondersoekbeampte in die saak sal getuig dat niemand se veiligheid gewaarborg kan word as die seun borgtog toegestaan word nie.
Die borgaansoek duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA