Bok-haker verloor duisende in bedrogskema
2011-09-13 07:02
Pretoria – Die Springbok-haker Chiliboy Ralepelle is een van sowat 750 mense wat geld verloor het in ’n vervoerskema waarin mense tot in die buiteland uit miljoene rande gekul is.
Visser du Plessis (62) en sy skoondogter, Karin du Plessis (31), albei direkteurs van dié vervoerskema, Northern Trucking, sowel as sy seun, Pierre du Plessis (35), wat ’n bestuurder in die maatskappy was, sal Dinsdag in die Pretoriase handelshof verskyn nadat hulle Sondagaand in hegtenis geneem is. Hulle sal op 80 aanklagte van bedrog en diefstal verskyn.
Volgens ’n bron na aan die ondersoek het die vervoerskema, wat in Montana, Pretoria, gesetel is, ’n fasiliteringstarief van R30 000 van klante gevra – met die belofte om ’n vragmotor met ’n vervoerkontrak, asook finansiering, aan hulle te voorsien.
Nie die vragmotor, die vervoerkontrak óf finansiering het gematerialiseer nie.
Ralepelle het glo in 2007 R150 000 in die skema belê.
Ingevolge sy kontrak met Northern Trucking het die maatskappy ’n jaar gehad om vir hom finansiering en ’n vervoerkontrak te reël.
Indien dit nie binne die bepaalde 12 maande sou gebeur nie, sou die maatskappy die geld aan hom terugbetaal.
Toe Ralepelle ’n jaar nadat hy die kontrak gesluit het navraag doen, het hy nie sy geld, finansiering of ’n kontrak van Northern Trucking gekry nie.
Die bron het gesê Ralepelle sal ná die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Nieu-Seeland ’n verklaring by die polisie aflê.
Volgens die bron het die Du Plessis’s dié skema glo in 2006 begin bedryf en tot verlede jaar, toe hulle hulself laat likwideer het, daarmee aangehou.
Hulle het glo in dié sowat vyf jaar tussen R200 miljoen en R300 miljoen in hul sakke gesteek.
Die Du Plessis-egpaar is Sondagaand op die Pecanwood-landgoed in Hartbeespoort in hegtenis geneem.
Du Plessis sr. is kort daarna by sy huis op die Rooiwal-hoewes, noord van Pretoria, in hegtenis geneem.
Hy en sy seun is toegesluit terwyl mev. Du Plessis, wat sowat vier maande swanger is, saam met haar negejarige seun en driejarige dogter by vriende tuisgaan totdat sy Dinsdagoggend saam met hulle in die hof moet verskyn.
- Klaers kan die Pretoria-Noord-polisiekantoor by 012 353 5666 kontak as hulle nog klagte wil aanmeld.
– Volg Nuus24 op
Twitter
- Beeld