Spotprent ’n groot fout, sê Moslems
2010-05-26 09:21
Johannesburg - Die nuut gestigte United Muslim Forum vergader vandag met Mail & Guardian oor die omstrede spotprent van die profeet Mohammed wat Vrydag in die koerant verskyn het.
Hulle gaan die vergadering benader met die “waardigheid wat die Profeet toekom”, maar as die koerant nie om verskoning vra of onderneem om nie weer sulke spotprente te plaas nie, gaan hulle ’n protesaksie reël of regstappe doen, het Iqbal Jassat, voorsitter van die forum, gesê.
Die spotprent deur Jonathan Shapiro (Zapiro) beeld ’n hartseer Mohammed uit waar hy op ’n bank by ’n sielkundige lê en kla dat ander profete se volgelinge ’n sin vir humor het.
Die Raad van Moslem-teoloë het Donderdagaand met ’n dringende hofaansoek probeer keer dat die spotprent geplaas word, maar die aansoek het misluk.
“Hulle het ’n groot fout begaan deur dit te plaas. Dit het die Moslem-gemeenskap aanstoot gegee. Die gemeenskap is woedend,” het Jassat gesê.
Op ’n vergadering dié week het die forum besluit “die woorde wat in die spotprent aan die profeet toegedig word, is ’n totale versinning” en dat die koerant om verskoning moet vra.
Nic Dawes, redakteur van M&G, het Vrydag in sy redakteursbrief op die koerant se webwerf gesê die spotprent het aansienlike opspraak gewek en van die koerant se lesers vervreem.
Hy het by navraag gesê die koerant hou nie daarvan om mense te ontstel nie, maar die wêreldwye debat oor indrukke van hoe Mohammed uitgebeeld word, kan in die lig van mediavryheid nie van Zapiro weerhou word nie.
Hy het gesê die koerant is nog nie amptelik genader om verskoning te vra nie.