Spogskool skors seuns oor beweerde seksdade
2011-10-27 09:06
Oudtshoorn – Drie leerders van die Hoërskool Oudtshoorn is Dinsdagaand in ’n interne tugverhoor deur die beheerliggaam van dié skool geskors.
Twee van hulle (onderskeidelik 17 en 18 jaar oud) word aangekla van statutêre verkragting van ’n 15-jarige medeleerder nadat hulle na bewering om die beurt met haar seksuele omgang gehad het.
Die voorval het na bewering in September op die De Jager-sportkompleks se terrein gebeur en is deur die 16-jarige leerder op selfoonvideo vasgelê. Hy word aangekla van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie.
“Die leerders is Dinsdag ingevolge die Skolewet van ernstige wangedrag aangekla deurdat hulle hul skuldig gemaak het aan onbetaamlike, onbehoorlike en onsedelike gedrag deur die koshuisterrein te verlaat om die dade op ’n openbare plek te pleeg,” het mnr. Johan Myburgh, voorsitter van die beheerliggaam, Woensdag gesê.
“Volgens regulasie 31(a) van die Skolewet 84 van 1996 is hulle skuldig bevind op grond daarvan dat hulle al drie skuld beken het op die aanklagte teen hulle.
“Die beheerliggaam streef daarna om saam met die skoolhoof en leerkragte goeie dissipline te handhaaf en die skool se goeie naam en etos te beskerm.”
Volgens hom is die volgende besluite geneem:
Die drie seuns word onmiddellik uit die koshuis gesit; en
By die WKOD is aanbeveel dat hulle al drie uit die skool gesit word.
“Die skool wag op bekragtiging daarvan,” het Myburgh gesê.
Die WKOD se besluit sal bepaal of die drie hul jaareindeksamens mag aflê. Die 18-jarige, ’n belowende jong rugbyspeler, is besig met sy matriekeindeksamen.
Die ouers van die 15-jarige meisie, wat ook in die koshuis was, het die klag ingedien nadat hulle deur die skool oor die voorval ingelig is. Die meisie is intussen reeds weg uit die skool.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger