Spioene uit buiteland ‘bedreig ons land’
2010-09-18 15:28
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse regering en politici is onder beleg van “vyandige” spioene uit die buiteland en dit hou ’n wesenlike bedreiging vir staatsveiligheid in.
Dr. Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid, het Vrydag in die parlement gesê daar word op senior regeringsleiers en beleidmakers soos pres. Jacob Zuma, leiers van die ANC-alliansie en die opposisiepartye gespioeneer met die doel om ons politieke bestel te “manipuleer”.
Volgens hom moet die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting die land teen inligtingsmouse, spioene en verdagmakers beskerm en hul dade kriminaliseer.
“Ons kan dit nie bekostig om die bedreiging te onderskat nie,” het hy teenoor die parlementêre ad hoc-komitee wat met die wetsontwerp gemoeid is, aangevoer.
Dene Smuts, DA-LP, het dié uitlatings as “verwronge” beskryf en gesê die land se intelligensie-agentskappe “is duidelik steeds vasgevang in die greep van ’n politieke paranoia uit die Mbeki-era”.
Cwele het volgehou daar ís ’n wesenlike bedreiging. “Dit is nie paranoia of verbeelde gevare nie. Vyandige spioene uit die buiteland is ’n werklikheid. Hulle teiken beleidmakers en wil ons politieke prosesse manipuleer. Ons grondwetlike demokrasie móét (daarteen) beskerm word.”
Spioenasie hou ook ’n bedreiging vir ekonomiese mededingendheid in, het hy gesê. Staatsgeheime oor voedselsekuriteit, water en energie is ter sake.
“Voedselsekuriteit mag nie bedreig word nie. Enige land wat hierin misluk, sal deur konflik en oorloë geteister word.”
Dit is ook die staat se plig om kritieke databasisse met landsburgers se belangrikste inligting te beskerm.
Cwele se voorlegging volg ná maande van fel kritiek op ’n wetsontwerp wat die regering sal magtig om sensitiewe staatsinligting te klassifiseer en swaar strawwe op te lê aan diegene wat dit bekend maak.
Hy het Vrydag toegegee die reik-wydte van die wetsontwerp moet beperk word en dat staatsinligting nie in “nasionale belang” geheim gehou moet word nie. Geheimhouding moet net in belang van “staatsveiligheid” wees en die tersaaklike kwessies moet in die wetsontwerp gelys word.
Hy het egter geweier om bes te gee oor die insluiting van ’n klousule om geklassifiseerde staatsinligting in “openbare belang” bekend te maak. Volgens hom sal dié verweer – waarop veral die media swaar sal steun – die wet ondermyn, “want jy kan nie die skade ongedaan maak nadat inligting verkeerdelik in die openbare domein beland het nie”.
Cwele volstaan by Enver Daniels, hoofstaatsregsadviseur, se mening dat die wetsontwerp grondwetlik is. Hy het die komitee versoek om dit te oorweeg om swaarder strawwe in die wetsontwerp in te sluit vir staatsamptenare wat staatsinligting opsetlik klassifiseer om korrupsie en misdaad weg te steek.
Die komitee vergader weer in Oktober met Cwele, waarna LP’s die wetsontwerp ingevolge parlementêre prosesse sal wysig en finaliseer.
- Die Burger