Speurder swyg oor dreigboodskappe
2011-04-02 16:06
Johannesburg - Die privaatspeurder Paul O'Sullivan het Saterdag geweier om kommentaar te lewer op berigte dat twee polisie-hoës dreigboodskappe van hom ontvang het.
"My regsverteenwoordiger hanteer alles wat deur die Saturday Star geskryf is en ek gaan nie daarop kommentaar lewer nie," het hy aan die nuusagentskap Sapa gesê.
Toe hy gevra is om sy prokureur se telefoonnommer te verskaf, het hy geantwoord: "Ek betaal nie my prokureur om met jou te praat nie."
Die Saturday Star het berig dat een van die beamptes, brig. Sally de Beer, beplan om vir 'n hofbevel aansoek te doen om O'Sullivan te verbied om haar lastig te val en te intimideer.
Die ander beampte, kol. Vish Naidoo, is besig om regshulp in te win ná hy Donderdag 'n dreigboodskap ontvang het.
Hy het egter geweier om oor die aangeleentheid kommentaar te lewer.
Die Johannesburgse hooggeregshof het O'Sullivan Dinsdag verbied om Piet Du Plessis, prokureur van die Tsjeggiese bedrog-verdagte Radovan Krejcir, te dreig of te intimideer.
Du Plessis het gesê hy het gevoel sy en sy familie se lewens was in gevaar ná O'Sullivan 'n boodskap aan hom gestuur het wat 'n waarskuwing en ultimatum van 24 uur bevat het.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA