Spesialis-eenhede gaan plase veilig hou
2010-09-12 08:56
Die polisie-eenhede wat misdaad op plase en plattelandse gebiede gaan
help keer, sal ’n beter taak kan verrig as die ou kommando’s.
Een
rede hiervoor is die feit dat reserviste, onder beskerming van die
polisie, oor die magte van ’n polisielid gaan beskik. Hulle sal
byvoorbeeld voertuie kan aftrek en deursoek.
Die kommando’s, wat
’n paar jaar gelede afgeskaf is, het slegs die polisie ondersteun en kon
nie voertuie aftrek en deursoek nie, sê André Botha, voorsitter
van Agri SA se komitee oor landelike veiligheid.
Botha sê Agri SA
is verheug oor die nuwe stelsel, veral ook omdat toerusting vir die
Wêreldbeker-sokkertoernooi, soos voertuie en radio’s, nou vir die
beveiliging van landelike gebiede beskikbaar is.
Nathi
Mthethwa, minister van polisie, het Donderdag aangedui die
polisie-eenhede gaan vanaf Maart volgende jaar weer misdaad op plase en
in landelike gebiede help beveg.
Dit beteken dat elke
plattelandse polisiekantoor ’n spesialis-eenheid gaan kry wat hom net
gaan toespits op dié uitgestrekte gebiede.
“Dit maak ons opgewonde,” sê Botha.
Dianne Kohler Barnard, die DA se skaduminister van polisie, sê die plan
is nog vaag. Sy het ’n vraag hieroor aan Mthethwa gestel en wou weet of
dié eenhede dieselfde as die eertydse kommando’s sal wees.
“Nietemin,
as dit opgeleide eenhede gaan wees wat die boere en plaaswerkers teen
aanvalle gaan beskerm, is dit die beste nuus van die jaar tot dusver,”
sê sy.
Pieter Groenewald van die VF+ sê min mense weet hoe die plan in die praktyk uitgevoer gaan word.
“Dit
is nou al die derde plan, maar niks word in die praktyk deurgevoer nie.
Ek kan nie sien dat dit beter as die kommando’s sal werk nie, want die
polisie sal nie soveel reserviste kan werf nie, nog minder die logistiek
daarvoor hê.”
Oudgenl. Constand Viljoen, wat tans boer, sê die
erkenning dat die afskaffing van die kommandostelsel die boere kwesbaar
gelaat het, is “’n goeie stap”.
Hy meen egter die grootste
swakheid van die polisie is swak dissipline en korrupsie. Die landelike
gebiede is uitgestrek en kwesbaar hiervoor.
“As dissipline en toewyding ontbreek, is dit geldmors.”
Volgens
’n voorlegging wat die SAPD in Maart by Agri SA se
landelikemisdaad-konferensie gelewer het, gaan die polisie, plaaslike
gemeenskappe en reserviste betrek word.
Misdaadbrandpunte gaan
bepaal word. Die idee is dat ’n gemeenskap saam met die SAPD
verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie sektor. Waar boere en
plaaswerkers gaan inskakel, sal die beweging van mense en voertuie
gemonitor kan word sonder om inbreuk te maak op die regte van mense.
Die
bronne van die SAPD is tot die beskikking van die lede op patrollie,
soos om navraag te doen oor eienaarskap van voertuie om vas te stel of
’n voertuig gesteel is.
Misdaadvoorkomingsoperasies sal die sigbaarheid van die SAPD verbeter.
Indien
’n misdaad gepleeg is, sal die boere (reserviste) baie vinnig op ’n
geordende wyse kan reageer, wat hulpverlening aan die slagoffers sal
versnel en die kans op ontsnapping bemoeilik omdat gebiede toegemaak kan
word deur boere wat radio’s deurlopend monitor.
- Rapport