Spense nog lank nie vol
2012-01-16 07:03
Bloemfontein – Spense gaan waarskynlik lank leeg bly met hoë voedselinflasiesyfers wat nog ses tot agt maande behoort te duur, sê Christo Joubert, senior navorser van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR).
Intussen het laat reën aanplantings vertraag en boere het nie al die mielies geplant wat hulle beplan het nie. ’n Verwagte mielietekort kan mielieverwante produkte se pryse nóg skerper laat styg.
Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA, het oor die radio gesê die mielieprys is tussen 50% en 55% hoër as verlede jaar dié tyd. Mieliemeel is tussen 28% en 36% en rooivleis tussen 18% en 22% duurder.
Daar is ’n tekort aan plaaslike mielies met “’n chaos wat in die witmieliemark kan ontstaan”, sê De Villiers luidens ’n berig op www.landbou.com.
Aanvanklik is verwag dat die land se mielie-oes sowat 10,6 miljoen ton sou wees. Die oes was eindelik 10,3 miljoen ton, wat beteken die vraag was groter as die aanbod. Dít word as een van die redes vir die probleem aangetoon.
Luidens ander berigte kan hoender- en varkvleis in die volgende maande tot 30% meer kos.
Johan van den Berg, landbouweerkundige van Santam Landbou, sê egter die kanse is goed vir bogemiddelde reënval in die tweede deel van die seisoen.
Joubert sê Suid-Afrika ervaar lae voorraadvlakke van wit en geel mielies.
“Die Suid-Afrikaanse mielieprys was vir ’n baie lang tydperk in 2011 relatief laag in terme van internasionale pryse.
Graanhandelaars het dié geleentheid benut en van die Suid-Afrikaanse mielies opgekoop en uitgevoer.”
Joubert sê boonop is die wêreldvoorraadvlakke van graan nou ook baie laag.
“Suid-Amerika, wat as ’n netto uitvoerder van graan geken word, ervaar ’n baie moeilike seisoen in terme van klimaat, wat nog verdere druk op internasionale voedselpryse kan plaas.”
Volgens hom word Suid-Afrikaanse graanpryse direk van die internasionale pryse afgelei.
Die verswakking van die rand het ook bygedra tot hoër invoer/uitvoer-pariteitspryse.
Joubert sê mense het rede om bekommerd te wees.
“Tekorte kan ontstaan ná die einde van die mieliebemarkingsjaar (April). Verdere kommer lê in die onsekerheid of wit mielies beskikbaar gaan wees op die wêreldmark om te kan invoer. ’n Verdere verswakking in die rand kan die bogenoemde posisie nog verder versleg. Tans word geel mielies reeds ingevoer.”
Joubert sê hoewel laat reën aanplantings effens vertraag het, behoort ons meer hektare vir die nuwe seisoen te sien.
“Daar is hoop en vertroue dat die klimaat gunstig vir die res van die seisoen gaan wees. Indien dit realiseer, behoort die oes goed te wees en ons rondom uitvoerpariteitsvlakke te verhandel, wat tans sowat R1 900 per ton vir geel mielies is.”
Van den Berg sê met die teenwoordigheid van ’n La Niña-verskynsel (soos die 2010-’11-seisoen, hoewel swakker) bly die kanse baie goed vir reën in die tweede deel van die seisoen.
Die moontlikheid van vloede is nie uitgesluit nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad