‘Speel vir tyd met mynnasionalisering’
2010-11-21 08:56
Myne in Suid-Afrika hoef
nie genasionaliseer te word om swart eienaars te kry nie omdat ’n
staatsbeheerde mynmaatskappy reeds landwyd om 121 prospekteer- en
mynregte aansoek gedoen het.
Adv. Anton Alberts van die VF+ het
Woensdag so gesê nadat die ANC aangekondig het hy gaan twee navorsers
aanstel om die wenslikheid van nasionalisering te ondersoek.
Die
ANC se besluit kom nadat sy jeugliga-president, Julius Malema, die
kwessie die afgelope jaar verskeie kere vurig aangeroer het. Die party
se nasionale algemene raad in Durban het gevolglik besluit om dit verder
te voer.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC,
het Maandag gesê die party het besluit die navorsing moet einde 2011
klaar wees sodat nasionalisering van myne op die ANC se beleidskongres
in 2012 gedebatteer kan word.
Floyd Shivambu,
jeugliga-woordvoerder, het die ANC egter gewaarsku die navorsers moet
nie ’n tegnokratiese of akademiese studie doen nie, maar aandag skenk
aan ekonomiese transformasie.
Alberts het gesê die jeugliga se
verwagting dat die navorsers nie onafhanklik sal wees nie, is nie logies
nie. Volgens hom moet die jeugliga daarvan kennis neem dat die staat
“binnekort só ’n groot aandeel in die mynwese (deur die staatsbeheerde
mynmaatskappy African Exploration Mining and Finance Corporation
(AEMFC) sal hê, dat nasionalisering nie nodig sal wees om die
eienaarskap van myne in groter mate in swart hande te plaas nie”.
Alberts
sê Buyelwa Sonjica, voormalige minister van waterwese en
omgewingsake, het onlangs op ’n vraag van hom in die parlement gesê
AEMFC het tans reeds 27 prospekteerregte en een mynreg.
“’n Verdere 94 aansoeke vir prospekteerregte en een vir mynregte word tans ook vir goedkeuring ten opsigte van AEMFC oorweeg.”
Prof. Willie Breytenbach, emeritus-professor aan die Universiteit van Stellenbosch, sê alles sal afhang wie dié navorsers is.
“Ek
dink egter nie hier gaan veel van kom nie. Soos ek dit sien, speel die
ANC nou vir tyd en hulle probeer hul strydende faksies gelukkig hou
omdat die plaaslike verkiesings volgende jaar en hul beleidskongres in
2012 plaasvind.
“Dit lyk of die ANC met die aankondiging Maandag sy faksies tot dan gelukkig wil hou.”
Volgens Breytenbach skep dit egter onsekerheid in die mynbedryf en dit skrik beleggers af.
Breytenbach
sê die ANC vra mynmaatskappye ook om saam te werk met die navorsing,
“maar hoe sal hulle dit wil doen as myne genasionaliseer gaan word?”.
Intussen
het Senzeni Zokwana, president van die mynwerkersvakbond NUM,
nasionalisering van myne as roekeloos en ondeurdag bestempel wat geen
vrugte gaan afwerp nie, berig Reuters.
Zokwana bevraagteken Malema se motief daarvoor.
Zokwana
het die ANC ook gekritiseer omdat ’n persepsie by buitestanders geskep
is dat ingrypende veranderings in die mynbedryf kom, terwyl dit nie die
geval is nie.
“Ek glo daar is geen bedreiging vir enige belegger
nie. Die kwessie sal in 2012 gedebatteer word en, met die feite tot ons
beskikking, dink ek nie dit sal realiseer nie.”