Sowat 32% kinders teen 2015 wees
2009-11-21 06:29
Kaapstad. – Sowat 5,7 miljoen of 32% van alle Suid-Afrikaanse kinders sal na raming teen 2015 een of beide ouers weens MIV/vigs aan die dood afgestaan het.
Boonop was bykans die helfte van alle sterftes verlede jaar in die land ook vigsverwant. Dit is ’n aansienlike styging teenoor een derde in 2001, blyk uit ’n studie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) wat eergister bekend gemaak is.
Daarvolgens het die getal weeskinders en -huishoudings tussen 2002 en 2007 met 25% van 118?000 tot 148 000 toegeneem.
“Al hoe meer kinders gaan wees gelaat word namate MIV/vigs die lewensduur van ouers beïnvloed. Huishoudings met kinders aan die hoof sal aanhou toeneem,” het Gail Eddy, ’n navorser van die SAIRR, gesê.
“Indien die status quo so voortgaan, sal Suid-Afrika in die toekoms deur ’n groot krisis in die gesig gestaar word.”
Luidens die studies het die land se MIV-positiewe bevolking van 9% in 2001 tot 12% in 2008 gestyg.
– Die Burger