Somerset-Wes brand: Alle brandbestryders gevra om te help
2011-04-16 17:55
Kaapstad – Brandbestryders wat van diens af is, is Saterdag gevra om te help met ‘n brand in Somerset-Wes wat buite beheer geraak het, het die Kaapstadse brand-en-reddingsdienste gesê.
“Ons wil ‘n beroep op alle brandbestryders in die omgewing doen om ons te help. Hulle sal na verskeie sektore ontplooi word en sal ook gevra word om van die voertuie te beman,” het Theo Layne, ‘n woordvoerder, gesê.
Tien huise is reeds in die brand verwoes wat ongeveer 08:00 Saterdagoggend naby die Helderberg Natuurreservaat in Somerset-Wes begin het.
“Ons ontvang lugbystand van helikopters maar sterk winde belemmer ons pogings," het Ian Schnetler, Kaapstad se brandweerhoof, gesê.
Die brand is besig om vinnig in 'n suid-oostelike rigting te beweeg.
Niemand is in die brand dood of beseer nie.
Mense word tans uit hul huise ontruim omdat die brand so vinnig versprei.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA