Solidariteit waarsku oor ANC se mynbou-planne
2012-06-29 15:26
Johannesburg – Die vakbond Solidariteit het Vrydag gewaarsku dat ‘n voorgestelde super-belasting in die mynbedryf werkskepping in die sektor kan belemmer.
Die voorstel van ‘n superbelasting van 50% op winste wat groter is as 15% sal nuwe ontwikkelings ontmoedig, het Piet le Roux, senior ekonomiese navorser van die Solidariteit-navorsingsinstituut, gesê.
Die belastingdrempel sal bereken word op die koers vir langtermyn-staatseffekte plus 7%.
Volgens die outeurs van die dokument kan so ‘n superbelasting sowat R40 miljard ‘n jaar lewer teen huidige pryse.
Nietemin meen Le Roux markspelers sal hul gedrag by minder gunstige toestande aanpas, so die belastingopbrengs sal byna vir seker minder wees as wat geprojekteer is.
“Die ANC is gefikseer op eenjaar-siklusse en ignoreer die feit dat mynmaatskappye tydens lang tydperke van nie-winsgewendheid moet deurdruk om slegs nou en dan voordeel te trek uit uitsonderlike hoë pryse,” het hy gesê.
“Verder word die moontlikheid van hoë winste nagestreef, aangesien dit entrepreneurs aanmoedig om vinniger, eerder as stadiger, te reageer op die geleentheid om bruikbare produkte en dienste te vervaardig.”
Sodra die moontlikheid van wins afneem, deur byvoorbeeld ‘n superbelasting in te stel, sal beleggers se entoesiasme verminder.
Daar sal ‘n kleiner vraag na werkers in die sektor wees en verbruikers sal ook geraak word, aangesien minder goedere en dienste teen lae pryse aangebied word.
Dit sal interessant wees om te sien of die ANC se beleggingsarm, Chancellor House, ten gunste daarvan sal wees om 50% belasting te betaal op enige wins bo 15%, het hy gesê.
Solidariteit is bekommerd dat die ANC by sy siening bly dat ekonomiese groei die gevolg van regeringsinisiatiewe moet wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA