Solidariteit-hoof se oom sterf in plaasaanval
2011-02-09 10:03
Pretoria – Die vasgebinde lyk van ’n oom van dr. Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van die vakbond Solidariteit, is gister in sy plaashuis naby Alma in Limpopo aangetref.
Fanie Stander (68) het Dinsdag 11:00 op Frik Hermann (78) afgekom. “Ek het na die agterdeur gegaan om die oom (Frik) te gaan groet toe ek ’n stank geruik het, iets soos ’n dooie dier.
“Ek het na die voordeur gegaan en gesien dat dit oopstaan.
“Toe ek my voete in die huis sit het die reuk my erg getref. Ek het iemand in die volgende vertrek sien lê met sy arm wat vasgebind is.
“Dit is nie iets wat ek ooit gedink het ek in my lewe hoef te sien nie, nog minder van iemand wat jy goed ken.
“ ’n Mens is maar geweldig geskok nadat jy so iets gesien het,” het Stander gesê.
Volgens dr. Hermann het sy oom al jare lank op sy eie op die plaas gebly. Hy was ’n digter en skrywer van boeke soos Onder die sonlyn van Afrika.
Dr. Hermann het gesê wat hom die kwaadste maak is dat sy oom nou deel van statistieke is.
“1 647. Dit is my oom se nommer: die 1 647ste boer wat vermoor is (sedert 1991, volgens die Transvaalse Landbou-unie se statistieke).
“Daar gaan geen optogte in die strate wees nie, hy is maar net die nommer voor 1 648. Dit maak my woedend.
“As ’n mens (teen-)misdaadveldtogte dryf soos ek, dan oorhandig jy baie briewe, maar as dit ’n moord in jou familie is, dan skrik jy ewe skielik en besef die mense het name.
“Nou is die mense nie meer ’n syfer nie, maar dit was oom Frik, 18 000 oom Friks (moorde per jaar) wat vermoor is met hul eie families wat agtergelaat word.
“Ek doen ’n beroep op mense om meer aggressief teenoor dié misdade te wees en meer aktivisties op te tree, want as jy jou oë uitvee, is dit jou oom Frik wat jy moet groet,” het hy gesê.
Hy het gesê daar is aan hom gesê dat die oorsaak van sy oom se dood nog nie bepaal kan word nie omdat die lyk reeds te veel ontbind het.
Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig dat hulle ’n 78-jarige man in sy huis gekry het met sy hande agter sy rug vasgebind.
“Dit lyk of die man al tussen vyf en sewe dae dood kan wees. ’n Moordsaak word deur die polisie in Rankin’s Pass ondersoek.”
Otto kon nog nie sê of enigiets uit die huis vermis word nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld