Solidariteit bal vuis teen Woolworths
2012-09-05 20:36
Johannesburg – Die vakbond Solidariteit het 'n veldtog geloods in 'n poging om Woolworths te oorreed om "diskriminerende" advertensies terug te trek.
Dr. Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit, het Woensdag gesê Woolworths het versuim om advertensies, waarvoor slegs swart kandidate oorweeg word, terug te trek.
Solidariteit het Dinsdag 'n brief aan Woolworths gestuur en geëis dat advertensies wat sê slegs swart mense, kleurlinge en indiërs mag aansoek doen, op so 'n wyse aangepas word sodat mense van alle rasse oorweeg moet word.
Hermann het gesê Woolworths se advertensies kom neer op onregverdige diskriminasie op grond van ras.
Solidariteit se veldtog: "Woolworse: Making a differentiation", sal op sosiale netwerke bemark word en sluit protesboodskappe aan Ian Moir, hoof- uitvoerende beampte van Woolworths, in.
"In die media voer Woolworths aan dat hy slegs die Wet op Gelyke Indiensneming gehoorsaam. Die waarheid is egter dat dié wet nie die tipe uitsluitings toelaat nie," het Hermann gesê.
Sam Ngumeni, bedryfshoof van Woolworths, het ontken dat die maatskappy rassistiese werwingsprosesse volg.
Hy het gesê om die maatskappy se transformasie-verpligting na te kom, word verskeie meganismes vir dié doeleinde aangewend.
"Poste word slegs toegeken en voorkeur aangedui wanneer verteenwoordiging plaasvind en daar verseker moet word dat ons span divers is. Behalwe hiervoor, is al die ander poste oop vir aansoekers van alle demografiese groepe."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA